Nuus 12:00
BULLETIN 22 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal in die leerdervervoer-ongeluk in Vanderbijlpark styg tot 14
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens tree op teen beïnvloeders wat vals luuksegoedere bevorder
# En rugby: Agt stadions is gereed vir 2027 se Wêreldbeker-toernooi in Australië
# Die dodetal in Maandag se leerdervervoerongeluk in Vanderbijlpark, Gauteng, het tot 14 gestyg toe nog twee leerders in die vroeë oggendure in die hospitaal gesterf het. Die bestuurder van die voertuig, wat teen ‘n vragmotor gebots het, sal vandag in die hof verskyn. Polisiewoordvoerder Mavela Masondo sê ondersoeke duur voort:
Intussen het twee leerders en die bestuurder oorleef toe die minibus waarin hulle vandag in Vosloorus, Gauteng, gereis het, aan die brand geslaan het. Die Ekurhuleni-metro se Ramp-en-noodbestuursdienste sê brandbestryders het op ‘n oproep gereageer. Woordvoerder William Ntladi sê die leerders van tien- en twaalf-jaar-oud en die bestuurder kon sonder beserings uit die voertuig kom:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verskerp sy pogings om die bevordering van vals luukse- skoonheids- en modeprodukte op sosiale media te beperk. Intellektuele eiendomskundiges waarsku daar sal ernstige gevolge teen beïnvloeders wees vir die verkoop van nagemaakte goedere. Die diens monitor onverklaarde inkomste uit geborgde plasings, geskenke en gasvryheid, wat belasbaar is en selfs onderhewig kan wees aan belasting op toegevoegde waarde. Owerhede sê vervalsing bly ‘n misdaad, met beïnvloeders wat tans in die Inkomstediens se visier is.
Nuus uit die buiteland:
# Die Republikeins-beheerde Toesigkomitee van die Huis van Verteenwoordigers het ‘n mosie aanvaar om die voormalige Amerikaanse president, Bill Clinton, en sy vrou, Hillary, van minagting van die Kongres aan te kla. Hulle het ‘n dagvaarding ignoreer om te getuig in die ondersoek na die ontslape pedofiel Jeffrey Epstein. Bill Clinton het vroeër saam met Epstein in foto’s verskyn. Voorsitter James Comer sê hulle verdien nie spesiale behandeling nie:
# Rugby: Agt stadions gaan volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië aanbied. Die Olimpiese Stadion in Sydney sal die middelpunt van die toernooi wees. Die stadion, met 80-duisend sitplekke, sal die eindstryd op 13 November aanbied, sowel as albei halfeindstryde, die uitspeelstryd om derde plek, twee kwarteindstryde en twee groepswedstryde. Die sokkerstadion in Sydney sal ook ‘n sleutelrol speel, met drie groepswedstryde en twee wedstryde in die ronde van 16. Die toernooi skop op 1 Oktober in Perth af.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-799-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-828-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….