Nuus 11:00
BULLETIN 22 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal in die leerdervervoer-ongeluk in Vanderbijlpark styg tot 14
# Steenhuisen stel ‘n koördinerende raad aan om die reaksie teen bek-en-klouseer te versterk
# En tientalle mense word vermis na ‘n modderstorting in Mount Maunganui, Nieu-Seeland
# Die dodetal in Maandag se leerdervervoerongeluk in Vanderbijlpark, Gauteng, het tot 14 gestyg toe nog twee leerders in die vroeë oggendure in die hospitaal gesterf het. Die bestuurder van die voertuig, wat teen ‘n vragmotor gebots het, sal vandag in die hof verskyn. Polisiewoordvoerder Mavela Masondo sê ondersoeke duur voort:
Intussen sê die Parlement se staande komitee oor Toedeling die skoolvervoerstelsel word nie behoorlik beheer nie en is dikwels swak befonds, wat aan onafhanklike verskaffers vastrapplek gee. Voorsitter Mmusi Maimane sê vervoer van leerders moet veilig, betroubaar en behoorlik beheer wees:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het amptelik die Raad vir die Koördinering van Bek-en-klouseer in die Bedryf aangestel om Suid-Afrika se nasionale strategie te versterk en die siekte te beheer. Die Noord-Kaap is die enigste provinsie wat nie geraak word deur die siekte wat na twee van die land se grootste voerkrale versprei het nie. Steenhuisen sê die raad sal verseker die bedryf speel ‘n aktiewe koördinerende rol in die strategie teen bek-en-klouseer, insluitend die verspreiding van entstof, opspoorbaarheid en gereedheid om die siekte te beheer.
# Talle mense waaronder minstens een kind word vermis ná ‘n grondstorting op ʼn kampterrein by die gewilde Mount Maunganui aan die ooskus van Nieu-Seeland. Swaar reën in groot dele van die Noord-eiland het chaos veroorsaak en in sommige gebiede het ʼn maand se reën binne 12-uur geval. Die bevelvoerder van die land se Brand-en-nooddiens, William Pike, sê reddingswerkers en snuffelhonde soek deur die puin na oorlewendes:
# Tennis: Die tienmalige kampioen, Novak Djokovic, is deur na die Australiese Ope se derde ronde. Die Serwiër wat ʼn rekord 25ste Grand Slam-titel najaag, het Francesco Maestrelli van Italië verslaan. Nog ʼn Italianer, Lorenzo Musetti, het met sy landgenoot Lorenzo Sonego afgereken om weer die derde ronde van die Grand Slam-toernooi te haal. Die Amerikaner Ben Shelton en Karen Khachanov van Rusland is ook deur na die derde ronde. In die vroueafdeling het die verdedigende kampioen, Madison Keys, haar Amerikaanse landgenoot, Ashlyn Krueger, in die tweede ronde uitgeskakel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-91-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-828-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….