Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die getuienis van die voormalige hoof van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Robert McBride, is in twyfel getrek nadat die parlementslid vir ActionSA, Dereleen James, plofbare dokumente voorgelê het wat sy vorige verklarings weerspreek. Sy sê McBride het gelieg om die privaat forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan te beskerm.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens die Hooggeregshof in Pretoria het getuienis aangehoor dat ‘n vroedvrou, Yolandé Maritz-Fouchee se beweerde nalatige optrede daartoe gelei het dat ‘n baba op 12 Augustus 2020 doodgebore is. Behalwe vir dié voorval staan Maritz-Fouchee tereg op elf ander aanklagte.
Tweedens skryf die webblad die strafregkenner, doktor Llewelyn Curlewis is van mening die bestuurder van die taxi waarin 12 leerders omgekom het, kan van moord aangekla word.
En laastens word berig president Donald Trump het sy dreigemente laat vaar om tariewe in te stel om druk uit te oefen om Groenland te annekseer.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf dronkbestuurders kan dalk in die toekoms hul rybewyse lewenslank verloor.
Tweedens word berig daar is ‘n kerslig-waak gehou vir die 12 leerders wat in die Vanderbijlpark-ongeluk omgekom het.
En laastens is daar nuus oor ‘n taxibestuurderbetoging oor hul voertuie wat deur die Johannesburgse Metropolisie geskut is.
# Sowetan:
Berig getroudes sal in die toekoms die hof se toestemming moet kry indien hulle hul huweliksvoorwaardes wil verander nadat lobola betaal is.
# En The Citizen:
Skryf die bestuur in die Johannesburgse Metro is in wanorde met die stadsbestuurder, Floyd Brink wat die burgemeester, Dada Morero ignoreer en die nuwe streeksvoorsitter van die ANC, Loyiso Masuku ondersteun. Daar is ook vrae oor Brink se beweerde verskaffing van busse vir ‘n ANC-geleentheid.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die 53-jarige kunstenaar Bevan van Druten het in die hof in Plettenbergbaai verskyn in verband met die moord op sy vriendin, die oudspeurder Nicky van Heerden. Haar liggaam is naby Keurboomstrand by haar voertuig gevind.
Tweedens skryf die koerant oor ‘n 71-jarige atleet wat tien marathons in tien dae kafgedraf het.
En laastens word berig daar is volgens syfers wat beskikbaar gestel is, 177-duisend noodgevalle oor die feestyd in die Wes-Kaap aangemeld.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar is talle raadslede van die Nelson Mandelabaai-metro wat geld skuld op agterstallige dienste- en kragrekenings.
En tweedens skryf die koerant ook oor die hofverskyning van Bevan van Druten.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar is sterk teenkanting teen die tariefverhogings wat die Msunduzi-munisipaliteit wil afdwing.
En berig soos Sowetan ook oor die wysigings aan die verandering van huweliksvoorwaardes.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig kommer heers oor psigiatriese en TB-pasiënte wat in glo in dieselfde saal by die Otjiwarongo-distrikshospitaal verpleeg word.
En tweedens skryf die koerant Bank Windhoek dagvaar die Namcor-hoof, Immanuel Mulunga vir 1,39-miljoen-rand se skuld en wil op sy huis en bakkie beslag lê.