Nuus 06:00
BULLETIN 22 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê China het ingestem om Iran van die BRICS-vlootoefening uit te sluit
# ‘n Soektog is op tou gesit na die moord op vyf mense in Atteridgeville
# En krieket: Indië se vroue sal Suid-Afrika in April besoek vir ‘n T20-reeks
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika en China het ooreengekom om Iran uit te sluit van ‘n multinasionale vlootoefening in Valsbaai in die Wes-Kaap. Hy sê die saak is met China bespreek, en daar is besluit dat Iran moet onttrek. Die Suid-Afrikaanse vloot het blykbaar nie die president se instruksies eerbiedig nie. Ramaphosa het aan die media gesê ‘n raad van ondersoek sal die stappe bepaal wat nodig is om die situasie aan te spreek:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa en die uitvoerende hoof van Anglo American Global, Duncan Wanblad, het in Switserland ontmoet om Suid-Afrika se ontwikkelende energielandskap en transformasieplanne te bespreek. Eskom se herstel en die noodsaak vir bestendigheid is beklemtoon terwyl die stelsel voorberei vir groei en belegging. Hulle het bevestig dat betroubare, bekostigbare elektrisiteit noodsaaklik is vir mynbou, mineraalwaardekettings, werksgeleenthede, streeksekonomieë en uitvoermededingendheid, met energiesekerheid die sleutel tot die volhoubaarheid van werksgeleenthede en die bevordering van langtermyn ekonomiese groei.
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, sê vinnige verstedeliking en bevolkingsgroei vereis nuwe benaderings tot behuising wat vinniger, veiliger en meer koste-doeltreffend, omgewingsvriendelik en klimaatbestand is. Die departement sal nou van provinsies en munisipaliteite vereis om ten minste twee-persent van hul 2026/2027-behuisingstoekennings aan innoverende boutegnologie toe te ken. Simelane sê haar departement sal vernuwende oplossings in lyn bring met die land se regulatoriese raamwerk, insluitend boustandaarde, veiligheidsvereistes en omgewingsregulasies.
# Gautengse polisie is op soek na verdagtes wat vyf mense buite ‘n plaaslike snoepwinkel in Jeffsville, Atteridgeville, in Pretoria doodgeskiet het. Volgens berigte het die mans naby die snoepwinkel gestaan toe die aanvallers sonder waarskuwing losgebrand het. Tshwane se distrikskommissaris, Samuel Thine, sê die motief vir die moorde is nog nie bekend nie, maar afpersing kan nie uitgesluit word nie:
#Die Amerikaanse president, Donald Trump sê Amerika het ‘n ooreenkoms gesluit om 50-miljoen vate olie uit Venezuela te ontvang. Trump het by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos in Switserland gesê die ooreenkoms sal die Amerikaanse energievoorraad ‘n hupstoot gee en beide lande bevoordeel. Hy sê sy administrasie se ekonomiese beleide oortref die van voormalige president Joe Biden se administrasie ten opsigte van sterk groei, lae inflasie en rekordwinste op die aandelemark:
# Krieket: Die Indiese vrouespan besoek Suid-Afrika in April vir ‘n reeks van vyf T20’s teen die Proteas, wat beskou word as voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi wat op 12 Junie in Engeland begin. Die wedstryde word in Durban, Johannesburg en Benoni gespeel. Dit sal slegs die derde T20-reeks tussen die twee lande wees en die eerste sedert 2023. Krieket Suid-Afrika se direkteur van nasionale spanne en hoëprestasie, Enoch Nkwe, sê die toer is net wat die Proteas nodig het voor die Wêreldbeker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-832-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-821-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….