Nuus 06:00
BULLETIN 16 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wêreldbank verhoog sy ekonomiese groeivoorspelling vir die land
# Rise Mzansi verwelkom die vyf-persent daling in feestyd-padsterftes
# En rugby: Die Springbok-losvoorspeler Evan Roos verleng sy kontrak met die Stormers
# Die Wêreldbank het sy ekonomiese groeivoorspelling vir Suid-Afrika in 2026 verhoog tot 1,4-persent, ‘n styging van 0,3-persentasiepunte op sy voorspelling van Junie 2025. Die bank sê groei het in 2025 versterk tot 1,3-persent, ondersteun deur beter elektrisiteitsvoorsiening, ‘n uitsonderlike landbou-oes en ‘n toename in sakevertroue teen die einde van die jaar. Hy sê pogings tot fiskale konsolidasie en ‘n laer inflasieteiken het beleggersvertroue verder versterk. Die Wêreldbank sê privaat verbruik en beleggings sal die belangrikste groeidrywers bly, ondersteun deur pogings om doeltreffende openbare besteding te verbeter.
# Rise Mzansi sê hoewel die padsterftes vir die feestyd, met vyf-persent gedaal het, bly die aantal mense wat op die paaie sterf, steeds te hoog. Hy waarsku dat padongelukke die ekonomie miljarde rand per jaar kos. Makashule Gana van Rise Mzansi sê padveiligheid moet elke dag van die jaar afgedwing word, nie net gedurende spitsseisoene nie, met voortdurende optrede teen onpadwaardige voertuie en openbare bewustheid:
# Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe het te kampe met nog omstredenheid ná die bedanking van die voorsitter van die kommissie se Artikel 22-komitee, Musa Xulu. Xulu se bedanking volg te midde van wydverspreide versetoptrede deur kerke wat die komitee se pogings teenstaan om skadelike praktyke aan te spreek. Hy meen die komitee moet gemeentelede beskerm teen misbruik in ekstreme kerke, nie om geloof te reguleer nie. Die komitee sal voortgaan onder nuwe leierskap, met die fokus op verantwoordbaarheid en die beskerming van gemeentelede terwyl grondwetlike godsdiensvryheid gehandhaaf word.
# Die DA sê inwoners van Tshwane ly onder ernstige en herhaalde kragonderbrekings, met die langste onderbreking in East Lynne. Die party berei ‘n amptelike klag voor om aan die energiereguleerder, Nersa voor te lê, waarin beweer word dat die stad nie betroubare elektrisiteitsvoorsiening handhaaf nie. Cilliers Brink van die DA blameer begrotingswanbestuur, insluitend fondse wat herlei word na terugwerkende salarisverhogings en nie-noodsaaklike dienste:
# Die G7-ministers van Buitelandse Sake sê hulle is gereed om bykomende beperkende maatreëls in te stel indien Iran voortgaan om protesoptogte en verset te onderdruk in stryd met internasionale menseregteverpligtinge. Ten minste tweeduisend-400 betogers is dood sedert die begin van Iran se onderdrukking van teen-regeringsbetogings. Die ministers van Buitelandse Sake van Kanada, Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, die Verenigde Koninkryk, die VSA en die Europese Unie doen ‘n beroep op Iranse owerhede om selfbeheersing uit te oefen, geweld te staak en die menseregte en grondliggende vryhede van Iranse burgers te handhaaf.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Evan Roos sal tot ten minste 2028 in Kaapstad bly nadat hy sy kontrak met die Stormers verleng het. Hy het reeds 74 wedstryde vir die span gespeel en is in 2022 as die spelers se Speler van die Seisoen aangewys toe die Stormers die Verenigde Rugbykampioenskap gewen en hy sy internasionale debuut in dieselfde jaar gemaak het. Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, sê die 25-jarige Roos het op ‘n baie jong ouderdom ‘n groot impak gemaak en hy glo die beste van die jong flank moet nog gesien word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-432-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-616-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….