Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die DA is geruk deur faksiegevegte in die party met die bedanking van die voormalige minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George. Hy is ‘n senior lid van die party. George sê hy kan nie langer lid bly van ‘n party wat deur die ANC gekaap is nie.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf ook oor die geskil in die DA en die bekgeveg tussen George en die partyleier, John Steenhuisen. George het volgens die DA bedank voordat die tugproses teen hom afgehandel is.
En tweedens berig die koerant oor die onbeantwoorde vraag in die matriekuitslae: Waar is die wiskundekandidate?
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die polisie se misdaadintelligensiehoof, luitenant-generaal Dumisani Khumalo, het voor die parlementêre ad hoc-komitee getuig byna die hele Gautengse polisiestruktuur werk vir ‘n misdaadsindikaat. Hy het die hele topbestuur van die polisie by die aantyging ingesluit.
Tweedens skryf die webblad die aantal bek-en-klouseer-gevalle in Gauteng neem steeds toe. Daar is tans 173 gevalle in die provinsie. Sedert verlede jaar is byna 129-duisend diere van kant gemaak.
En laastens word berig die brandbestryders in die Wes-Kaap het die reën wat uitsak verwelkom.
GAUTENG:
# Sowetan:
Berig oor president Cyril Ramaphosa se besoek aan die vloedgeteisterde Limpopo. Die koerant skryf die president is stomgeslaan oor die omvang van die ramp en het plaaslike gemeenskappe geloof vir hulle hulp en toewyding om slagoffers by te staan.
# En The Citizen:
Skryf daar gaan vanjaar 2,5-miljard-rand bestee word aan die beveiliging van Ramaphosa en sy kabinetsministers. Dit is 300-miljoen-rand meer as laas jaar en sluit nie die 35-miljoen-rand in wat bestee word aan die beveiliging van tradisionele leiers in KwaZulu-Natal nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die broedertwis in die DA. Die koerant skryf oor Dion George se aantygings dat die party gekaap is deur die ANC en as gevolg daarvan gemuilband is en sy stem verloor het om in belang van Suid-Afrika te lei.
En tweedens skryf die koerant die Good-party in George het ‘n mosie ingedien waarvolgens geëis word dat die naam van die PW Botha-boulevard verander moet word. Die party sê ‘n herbenoemingsproses moet begin.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oos-Kaap is opnuut vasgevang in ‘n droogte met al die beperkings wat weer ingestel word.
En tweedens skryf die koerant oor die reusetekort aan plek by universiteite wat nie plek het vir al die skoolverlaters met universiteitsvrystelling nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die IVP in KwaZulu-Natal het die doodsdreigemente teen die premier Thamsanqa Ntuli veroordeel. Die party sê dit spruit uit Ntuli se streng optrede teen korrupsie.
En tweedens word berig die Msunduzi-munisipaliteit het opdrag gekry om sy elektrisiteitstariewe te hersien.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig dis Sondag een jaar ná die Namdia-diamantrooftog in die hoofstad. Slegs sowat 12-persent van die gesteelde diamante ter waarde van sowat 1,3-miljard-rand is teruggevind.
Dan skryf die koerant die regsverteenwoordiger van Fly Nakanduungile het in die Ondangwa-landdroshof aangevoer daar is geen bewyse dat sy kliënt die staatsaanklaer, Justine Shiweda, aangeval het nie.
En laastens is daar nuus oor die IKR o.19 Wêreldbeker-kriekettoernooi in Windhoek.