Nuus 17:00
BULLETIN 15 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die misdaadintelligensie-hoof verdedig ongewilde hervormings te midde van weerstand
# British American Tobacco gaan sy Suid-Afrikaanse aanleg sluit in ‘n reuseterugtrekking
# En, die Departement van Water en Sanitasie waarsku Wes-Kaapse inwoners om water spaarsamig te gebruik
# Die hoof van die Polisiediens se Misdaadintelligensie-afdeling, Dumisani Khumalo, het aan die Parlement se ad hoc-komitee oor politieke inmenging gesê hy stel sleutel-hervormings voorop, ondanks weerstand. Dit sluit die versterking van die wetsraamwerk binne sy departement in. Khumalo sê van die besluite was ongewild en het waninligting op senior bestuursvlakke ontketen. Hy beklemtoon wetshervormings is dringend nodig om die diens bestendig te kry:
# British American Tobacco gaan sy enigste vervaardigingsaanleg in Suid-Afrika in Heidelberg, Gauteng, aan die einde van die jaar sluit. Die stap sal tot die verlies van meer as een-duisend poste lei. Die besluit sal beteken dat die groep vir die eerste keer in langer as 70 jaar nie meer plaaslik sigarette sal vervaardig nie, maar op invoere sal terugval om die Suid-Afrikaanse mark te bedien. B-A-T gee onwettige sigarette die skuld, wat volgens hulle, nou 75-persent van die mark verteenwoordig. Die aanleg is die onderneming se agtste grootste fabriek met minstens een-duisend-500 werkers.
# Die Departement van Water en Sanitasie sê die Wes-Kaap het nog geen beduidende reënval gehad nie en damvlakke daal weekliks. Die provinsie se damme is gemiddeld 58-persent vol wat 22,7-persentasiepunte laer is as Januarie verlede jaar. Dis die laagste Januarie-vlak in jare. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê die provinsie se watersituasie is sorgwekkend:
# ‘n Franse militêre afvaardiging het in Groenland se hoofstad, Nuuk, aangekom, terwyl verskeie Europese state soldate stuur as deel van ‘n sogenaamde verkenningsending. Dit volg terwyl die Amerikaanse president, Donald Trump, sy aanspraak voortsit op die Arktiese eiland, wat ‘n semi-outonome deel van Denemarke is. Hy het sy poging verdubbel om Groenland onder Amerikaanse beheer te bring. Europa se NAVO-ontplooiing bestaan uit slegs ‘n paar dosyn personeellede as deel van Deens-geleide gesamentlike oefeninge. Hoewel dit duidelik simbolies is, is dit nie onmiddelik duidelik hoe lank hulle sal aanbly nie.
# Rugby: Die Stormers, die Bulle, die Haaie en die Leeus gaan hard werk in die laaste rondes van die Kampioenebeker en die Uitdaagbeker waar hul lot hierdie naweek bepaal sal word. Die Bull pak Pau môre in die Kampioenebeker in Frankryk. Saterdag is die Haaie gasheer vir Clermont in Durban, en die Stormers verwelkom Leicester Tigers in Kaapstad. Die Leeus pak Perpigan in die Uitdaagbeker in Frankryk en die Cheetahs, wat reeds uitgeskakel is, kom in Parys te staan teen Racing 92.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-914-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-605-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 63-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus …………..