Nuus 18:00
BULLETIN 15 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dumisani Khumalo waarsku Senzo Mchunu se opdrag om werwing te stop het misdaadintelligensie lamgelê
# Die DA dring aan die Regskommissie-ondersoek sal voortgaan ten spyte van Dion George se bedanking
# En, SANParke skort dagbesoeke aan Kruger-wildtuin tydelik op weens swaar reën
# Die SAPD se hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, het die Parlement se ad hoc-komitee oor politieke inmenging in die regstelsel meegedeel die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se opdrag om alle werwing te stop, het die afdeling ernstig beïnvloed. Khumalo sê dit het die poste van vier provinsiale hoofde vakant gelaat, kritieke senior bestuursrolle is nie gevul nie, en belangrike eenhede soos kuberoperasies is onderbeman. Hy het bygevoeg bestaande personeel werk sonder ophou om werksaamhede te handhaaf:
# Die DA het die bedanking van sy parlementslid en voormalige minister van Omgewing, Bosbou en Visserye, Dion George, bevestig. Hy het bedank in aanloop tot ‘n dissiplinêre proses deur die party se Federale Regskommissie, wat bewerings van verhoogde personeelsalarisse, misbruik van departementele inligting en die skending van die party se reputasie insluit. Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, sê die proses sal onder die federale uitvoerende gesag voortduur en wens George alles van die beste toe met sy toekomsplanne.
# SANParke het dagbesoeke aan die Kruger-wildtuin tydelik opgeskort weens swaar en aanhoudende reën in Limpopo en Mpumalanga. Die besluit is geneem om te fokus op veiligheid en noodreaksie, met die Letaba-ruskamp wat personeel en gaste ontruim het nadat die Letaba-rivier afgekom het. Die Phalaborwa-hek is ook gesluit, wat toegang tot die noordelike dele van die park beperk. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê die situasie word noukeurig gemonitor:
# Sokker: Meer as 500-miljoen versoeke is ontvang vir kaartjies vir vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika. Die lukrake trekkingsfase het vroeg verlede maand begin en hierdie week geëindig. Suksesvolle aansoekers sal nou in ‘n groep geplaas word waaruit almal ‘n gelyke kans staan om getrek te word en die kans te bekom om ‘n kaartjie te koop. Onsuksesvolle aansoekers het steeds ‘n kans in die daaropvolgende verkoopsfases wanneer bykomende kaartjies beskikbaar word. Die toernooi in Kanada, Amerika en Mexiko begin op 11 Junie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-764-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-603-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 63-dollar-40-sent per vat.
# En laastens, vier ruimtevaarders wat van die Internasionale Ruimtestasie ontruim is, is terug op aarde nadat hul verblyf in die ruimte met ‘n maand verkort is weens ‘n ernstige mediese situasie. Die span sal nou mediese ondersoeke ondergaan voordat hulle aan wal gaan nadat hulle in die see aan die kus van Kalifornië neergeplons het. Die identiteit van die bemanningslid en besonderhede oor die gesondheidsprobleem sal waarskynlik nie vrygestel word nie. Die ruimtevaarders het op 1 Augustus by die ruimtestasie aangekom en sou middel-Februarie teruggekeer het aarde toe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….