Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die kleinhandelsgroep Pepkor het sy kommer uitgespreek oor die vordering van verkrygingstransaksies. Dit volg na die Lewis-groep se oorwinning in die Konstitusionele Hof, wat hulle toelaat om deel te neem aan die hersiening van Pepkor se beplande aankoop van Shoprite se meubelafdeling vir 3,2-miljard-rand.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ondanks ‘n beweerde opdrag deur president Cyril Ramaophosa aan die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, dat Iran aan die BRICS-vlootoefening moet onttrek, blyk dit dat die land steeds betrokke is.
En tweedens skryf die webblad talle gaste is in die Kruger-wildtuin vasgekeer weens oorstromings in die gebied wat paaie onbegaanbaar maak.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf oor City Power se projek om meer as 10-miljard-rand se agterstallige skuld in te samel.
En berig ook oor die eerste skooldag van 2026.
# Sowetan:
Berig alles het nie vlot verloop op die eerste skooldag van 2026 nie. In Mpumalanga en Limpopo is die toegang tot skole belemmer deur oorstromings en in Gauteng en die Wes-Kaap is daar talle leerders wat nog nie geplaas is nie.
# En The Citizen:
Skryf die voormalige waarnemende Nasionale Polisiekommissaris, Khomotso Phahlane het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê hy het oor die televisie gehoor hy is uit die pos verwyder. Hy sê hy was bloot ‘n proefkonyn vir die opsystaan-beleid.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig Christoff Bekker wat berugtheid verwerf het as lid van die destydse Waterkloof Vier is gevonnis vir die aanranding van ‘n polisiebeampte tydens ‘n voorval by sy pa se huis op 26 Desember. Bekker het aan die koerant gesê dit was nie sy “trotsste oomblik” nie.
En tweedens skryf die koerant oor die droogte en die watertekort in die Bitou-munisipaliteit waar vlak 4-waterbeperkings ingestel is. Mosselbaai het ook waterbeperkings afgekondig.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig baie van die probleme wat verlede jaar ondervind is by skole in Nelson Mandelabaai bestaan steeds aan die begin van die skooljaar en daar is geen poging aangewend om dit op te los nie.
En tweedens het die koerant ‘n spesiale foto-blad oor die eerste skooldag.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die National Freedom Party het nou ‘n ommekeer gemaak en besluit hy wil weer aansluit by die regering van provinsiale eenheid.
En tweedens word berig oor die trane en vreugde tydens die eerste skooldag van die jaar.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die minister van Internasionale Betrekkinge en Handel, Selma Ashipala-Musavyi, sê sy sien uit na die besoeke van haar Russiese eweknie Sergey Lavrov, asook die adjunk- eerste minister Yury Trutnev in Februarie.
Dan skryf die koerant die inwoners van Okahandja is bekommerd oor die beweerde trae reaksie van die nooddienste ná die dood van ’n 21-jarige man vroeër die week.
En laastens word berig ‘n nuwe voltooiingsdatum vir die Windhoek-distrikshospitaal is vasgestel.