Nuus 06:00
BULLETIN 15 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Khomotso Phahlane sê hy was die proefkonyn vir die opsystaan-beleid
# Die Vryemarkstigting sê rassewette kortwiek Suid-Afrika
# En die VSA onttrek personeel aan streeksbasisse in die Midde-Ooste
# Die voormalige waarnemende Nasionale Polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê hy was ‘n proefkonyn vir die opsystaan-beleid omdat dit slegs op hom toegepas is. Hy is in Oktober 2015 deur oudpresident Jacob Zuma as waarnemende polisiekommissaris aangestel, na die skorsing van Riah Phiyega. Byna twee jaar later is hy deur die destydse minister van Polisie, Fikile Mbalula gevra om uit te tree. Phahlane sê sy verwydering was onwettig en irrasioneel:
# Die DA verwelkom die optrede van die minister van Landbou, John Steenhuisen, om bek-en-klouseer te bestry. Die party ondersteun Steenhuisen se oproep vir ‘n nasionale ramptoestand om meer hulpbronne te verkry en dierebewegings beter te beheer. Die doelwit is om infeksies in hoërisiko-provinsies binne ‘n jaar met 70-persent te verminder. Beyers Smit van die DA sê massa-inentings is aan die gang in KwaZulu-Natal, Gauteng, Vrystaat en Noordwes, met miljoene dosisse wat uit Botswana, Argentinië en Turkye ingevoer word:
# Die Vryemarkstigting sê Suid-Afrika het nie meer rassewette nodig nie; dit het vryheid nodig vir individue en sakeondernemings om hul eie toekoms te vorm. SpaceX se bestuurshoof, Elon Musk, het onlangs gesê Suid-Afrika het meer as 140 wette wat teen nie-swart burgers diskrimineer. Hy sê sy maatskappy, Starlink, kan nie in die land sake doen nie omdat hy nie swart is nie. Die stigting sê geen samelewing kan vorder terwyl rasseklassifikasie en staatsbeheer uitgebrei word nie. Hy sê sulke wette skep vals aansporings, skrik beleggers af en kweek korrupsie.
# Die Departement van Onderwys in Gauteng sê foute wat deur ouers gemaak word is ‘n belangrike oorsaak van die voortdurende agterstand in skoolplasings wat ongeveer drie-duisend graad een- en graad agt-leerders raak. Steve Mabona van die departement het aan SABC News gesê laat aansoeke, die keuse van onbekostigbare skole, aansoeke buite residensiële distrikte en gereelde skoolverskuiwings dra by tot die probleem. Mabona sê verder die departement werk nou saam met skole om kapasiteit te verhoog, met die doel om graad een-plasings teen die einde van die week te finaliseer:
# Die Verenigde State onttrek volgens berigte personeel uit sleutelbasisse in die Midde-Ooste as ‘n voorsorgmaatreël te midde van verhoogde spanning in die streek. Dit volg nadat ‘n senior Iranse amptenaar gesê het Teheran het bure gewaarsku hy sal Amerikaanse basisse aanval indien Washington die land sou aanval. Iranese leierskap probeer die ergste binnelandse onrus ooit in die Islamitiese Republiek onderdruk. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het herhaaldelik gedreig om in te gryp ter ondersteuning van betogers in Iran. Duisende mense is na bewering dood in die onderdrukking van betogings teen die land se regering.
# Rugby: Die Springbok-slot Jean Kleyn sal aan die einde van die seisoen by Gloucester in Engeland aansluit. Hy het sy vertrek van die Ierse klub Munster na tien jaar aangekondig. Kleyn het in 2016 by Munster aangesluit en vir Ierland in die 2019 Wêreldbeker gespeel voordat Bok-afrigter Rassie Erasmus hom na Suid-Afrika teruggelok het. Hy het vir die Bokke in die 2023 Wêreldbeker gespeel. Die direkteur van rugby by Gloucester, George Skivington, sê hy bewonder Kleyn al lank vir sy skerpsinnigheid, ervaring en wenhouding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-65-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-625-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….