Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC het tydens sy 8 Januarie-viering in Noordwes die afgelope naweek ses oplossings beloof met die oog op die verkiesing. Die vernaamste is water- en kragvoorsiening, en regeringsmislukkings.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n 42-jarige nabye familielid is in hegtenis geneem nadat die liggaam van Juanita Vermeulen Saterdag met verskeie steekwonde in die kattebak van haar voertuig by ‘n winkelkompleks in Brackenhurst gevind is.
Tweedens skryf die webblad die adjunkminister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Alvin Botes sê die regering sal nie weerstand bied teen die Afrikaner-vlugtelingprogram nie. Die regering is egter van mening dat die program geen gronde het wat die internasionale reg betref nie.
En laastens word berig die DA is van mening Suid-Afrika se deelname aan die BRICS Will for Peace-vlootoefening hou ernstige wetlike en diplomatieke risiko’s in.
GAUTENG:
# Sowetan:
Berig die meeste gesinne kan nie die koste van onderwys dra nie. Die aankoop van skooldrag, skryfbehoeftes en skoolfondse is buite die meeste huishoudings se begroting. Ouers word ook gewaarsku dat die aankoop van items soos skoonmaakmiddels onwettig is.
# En The Citizen:
Skryf daar is twee teorieë oor die verwoestende brande wat die Oos- en Wes-Kaap die afgelope week geteister het. Die een groep sê dit was brandstigting terwyl die ander groep beweer dat Eskom se verkrummelde infrastruktuur en kabeldiefstal die brande veroorsaak het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die reusebrandskade in die Wes-Kaap waar ten minste 90-duisend hektaar verwoes is. Sedert verlede week is minstens 11 huise in Mosselbaai in puin gelê. Die koerant skryf daar is verskeie brande wat steeds buite beheer is.
En tweedens skryf die koerant die Mededingingskommissie het opnuut verskeie klagtes oor die koste van skooldrag ontvang. Dit blyk dat daar ‘n voortslepende gekonkel tussen skole en kleredragverskaffers is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die matriekuitslae sal in môre se uitgawe van die koerant gepubliseer word.
En skryf die tydelike wonings van vloedslagoffers word nou deur diewe geteiken wat die mense wat reeds swaarkry se besittings steel.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die boere in KwaZulu-Natal is erg bekommerd oor die verspreiding van bek-en-klouseer in die provinsie.
En tweedens is daar nuus oor ‘n visserman wat ‘n reuse-baber gevang het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig hommeltuie word weer toenemend snags oor plase in die Suide opgemerk met boere wat bekommerd is oor wildstropery, veediefstal en die skending van hul privaatheid.
En tweedens skryf die koerant Swakara-produsente glimlag breed na die Amerikaanse ster Kim Kardashian verlede week in Aspen in die deelstaat Colorado gepronk het in ‘n korset gemaak van Swakara-pels.