Nuus 06:00
BULLETIN 12 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube prys die matriekklas van 2025
# Eskom herstel nog opwekkingsvermoë om netwerkbestendigheid te versterk
# En Iran waarsku hy sal terugslaan teen enige Amerikaanse aanvalle
# Met die matriekuitslae van 2025 wat moontlik vandag bekend gemaak word, het die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, die graad 12-leerders geprys vir die pogings, dissipline en veerkragtigheid wat hulle aangewend het. Gwarube sê die voltooiing van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamens is ‘n belangrike mylpaal. Sy sê leerders moet trots wees op hoe ver hulle gevorder het:
Die Vereniging van Staatsamptenare vra intussen die 2025-matrikulante, voornemende studente en hul ouers om uiters waaksaam te bly wanneer hulle vir tersiêre onderwys aansoek doen en registreer. Die vereniging se woordvoerder, Claude Naicker, is bekommerd oor die geskiedkundige toename in ongeregistreerde vals kolleges wat spesifiek op jongmense in landelike en stedelike sentra fokus en ongeldige kwalifikasies aanbied in ruil vir swaarverdiende familiespaargeld:
# Eskom sê drieduisend-en-40-megawatt se opwekkingsvermoë gaan voor spitstyd vanaand weer herstel word, wat bestendige elektrisiteitsvoorsiening deur die week sal ondersteun. Die kragverskaffer se waarnemende woordvoerder, Aubrey Sambo, sê tot dusver vanjaar was beplande instandhouding gemiddeld vyfduisend-333-megawatt, wat 11,34-persent van die totale opwekkingsvermoë verteenwoordig, vergeleke met 11,39-persent oor dieselfde tydperk verlede jaar:
# Iran het gewaarsku hy sal terugslaan indien die land deur die VSA of die besette gebiede aangeval word. Dit volg nadat president Donald Trump sy dreigement herhaal het om Iran aan te val as owerhede geweld gebruik om ‘n groeiende vlaag van landwye betogings teen die regering te onderdruk. Ten minste 420 betogers is dood en meer as drie-duisend-200 mense is in hegtenis geneem in die teen-regeringsbetogings. Iran waarsku hy sal Amerikaanse militêre en kommersiële basisse as vergeldingsteikens aanval as Washington militêr ingryp.
# Rugby: Harlequins het die Stormers se skoon rekord in die Kampioenebeker beëindig nadat hulle nege drieë in ‘n 61-10 oorwinning op Twickenham Stoop in Londen gedruk het. Nick David het ‘n driekuns aangeteken en Harlequins aangehelp vir ‘n plek in die laaste 16. Hulle sal ‘n tuisuitklopwedstryd verseker met ‘n bonuspunt-oorwinning oor La Rochelle volgende Sondag. Die Stormers, wat twee drieë deur Imad Khan en Dylan Maart aangeteken het, hoop dat ‘n oorwinning tuis teen die Leicester Tigers Saterdag genoeg sal wees vir ‘n tuiswedstryd in die laaste 16.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-673-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-534-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte: Boitumelo Media het die bekendstelling van die tweede jaarlikse gemeenskapsradiotoekennings aangekondig, wat sal saamval met UNESCO Wêreldradiodag op 13 Februarie. Boitumelo Media se stigter en voorsitter, Motseki Mabuya, sê vanjaar se tema, Shining A Spotlight On Talent, gaan voort om die onbesonge helde van die uitsaaiwese op grondvlak te vier. Hy sê hierdie toekennings vereer die kreatiwiteit, toewyding en unieke plaaslike stories wat gemeenskapsuitsaaiers elke dag op lug bring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….