Nuus 06:00
BULLETIN 9 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema eis dat Paul O’Sullivan en Brown Mogotsi persoonlik voor die Parlement verskyn
# Brande wat in die Kouga-munisipaliteit voortwoed lei tot ontruimingsbevele
# En motorsport: Henk Lategan loop steeds voor na die vyfde skof van Dakar
# Die leier van die EFF, Julius Malema dring aan die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan en sakeman, Brown Mogotsi moet persoonlik voor die parlement se ad hoc-komitee verskyn wat beweerde inmenging in die regstelsel ondersoek. Beide het versoek om virtueel te getuig, en na sekerheidsprobleme verwys. Die komitee, wat terselfdertyd as die Madlanga-kommissie plaasvind, beoog om sy verhore teen vroeg volgende maand af te sluit. Malema voer aan dat aanspreeklikheid nie in die gedrang gebring moet word nie:
# Aluma Capital se ekonoom, Frederick Mitchell, sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank mag dalk tydens sy Monetêre Beleidskomitee-vergadering op 29 Januarie die terugkoopkoers met 25 basispunte verlaag, van 6,75-persent tot 6,5-persent. Die potensiële verlaging volg namate die rand versterk, inflasie onder beheer bly en oliepryse daal. Mitchell sê ‘n koersverlaging kan besteding en beleggings verhoog sonder om inflasie aan te wakker, wat Suid-Afrika se ekonomie kan help te midde van voortdurende wêreldwye onsekerhede.
# Die Kouga-munisipaliteit in die Oos-Kaap moes gistermiddag noodgedwonge ‘n dringende ontruimingsbevel uitreik vir inwoners in Zwartenbosch, Oesterbaaiweg en die Krommeriviergebied. Dit volg nadat die onbeheerde brande, wat Woensdag geblus is, weer ontvlam het weens sterk wind. Die burgemeester van die Kouga-munisipaliteit, Hattingh Bornman, sê brandbestryders fokus op die voorkoming van die verdere verspreiding van brande:
# Die Amerikaanse president Donald Trump, sê hy sal probeer om die militêre begroting tot 1,5-duisend-miljard-dollar, gelykstaande aan ongeveer 24,6-duisend-miljard-rand, in 2027 te verhoog, en gesê dat daar moeilike en gevaarlike tye voorlê. Dit is ‘n massiewe toename van meer as 50-persent vergeleke met die huidige jaar se verdedigingsbegroting van 901-miljard-dollar. Trump het in ‘n sosiale media-plasing aangekondig dat sy voorstel die VSA in staat sal stel om die “droom weermag” te bou waarop hulle geregtig is en wat Amerika, ongeag die vyand, veilig en seker sal hou.
# Motorsport: Ten spyte van navigasieprobleme tydens gister se 5de skof wat veroorsaak het dat Henk Lategan byna 13 minute verloor het, is die Suid-Afrikaner steeds in die algehele voorste posisie in die Dakar-tydren in Saoedi-Arabië. Hy kry egter ernstige teenstand van die vier Ford Raptor-bestuurders, Mattias Ekstrom, Nani Roma, Carlos Sainz en die indrukwekkende jong Amerikaner Mitch Guthrie. Die laaste spesiale skof van 300 kilometer in die sandduine vind vandag plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-170-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-479-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….