Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die onttrekking van die National Freedom Party bedreig die stabiliteit van die KZN-koalisie. Volgens ontleders kan die NFP se uittrede die ineenstorting van die provinsiale regering veroorsaak.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die ANC is besig om sy sjarme-krane oop te draai met die oog op die verkiesing later vanjaar. Die veldtog vorm deel van die party se 114de bestaansvieringe. Die algemene gevoel is dat die SAKP wat nie saam met die ANC aan die verkiesing deelneem nie, aan die kortste end gaan trek.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Weerdiens het gerugte op sosiale media oor ‘n sikloon Baron wat op pad is na Suid-Afrika as fopnuus afgemaak. Die diens sê swaar neerslae word wel verwag oor die platorand, die Laeveld van Mpumalanga en Limpopo en die noordoostelike dele van KwaZulu-Natal.
En tweedens skryf die webblad COSATU en verskeie ander organisasies het buite die Amerikaanse ambassade in Pretoria betoog. Die vakverbond sê die VSA het nie die reg om lande te vat soos hy wil nie.
GAUTENG:
# Sowetan:
Berig president Cyril Ramaphosa moet homself voorberei op ‘n diensleweringsgemors wanneer hy Noordwes besoek vir die 114de verjaarsdagvieringe van die ANC.
# En The Citizen:
Lei met “BACK TO SCHOOL SHOCK”. Die koerant skryf daar wag ‘n reuseskok op ouers wat skoolklere, -skoene en -tasse moet koop. Dit kan maklik tot meer as drie-duisend-rand per leerder kos.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die polisie het die afgelope twee boekjare nagenoeg 25-miljoen-rand aan geskorste lede betaal. In een van die gevalle is ‘n generaal reeds vir sewe jaar geskors is en het steeds sy volle salaris ontvang. Die skorsings strek oor alle range.
En tweedens skryf die koerant terwyl die Stad Kaapstad mense versoek om water te spaar, gebruik die inwoners en sakeondernemings 73-miljoen liter water per dag te veel. Kaapstad het gewaarsku dat waterbeperkings ingestel mag word as dit voorduur.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Fokus vandag op die brande wat in die Kouga-gebied voortwoed en die reusepoging van brandbestryders om dit onder beheer te bring. Lugsteun is ingeroep van George en die munisipaliteit moes ontruimingsbevele uitreik.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook die KwaZulu-Natalse regering van provinsiale eenheid verkeer tans in ‘n onseker posisie as gevolg van die National Freedom Party wat met onmiddellike ingang onttrek het. Die besluit lei tot ‘n 50-50 magstryd in die wetgewer, wat die provinsie se bestuur onseker laat.
En tweedens word berig die KwaZulu-Natalse regering ondersteun luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi vir ‘n tweede termyn as provinsiale polisiekommissaris. Die premier, Thami Ntuli, sê hy het leierskap en handhaaf ‘n goeie misdaadbestrydingsrekord.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig eerstens oor die honderde verkiesingsbeamptes in Namibië wat nog geen betaling ontvang het nie. Die verkiesing het reeds in 2024 plaasgevind.
En tweedens skryf die koerant oor die negatiewe uitwerking van misdaad op toerisme in Namibië.