Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Donald Trump wil intimidasie gebruik om Venezolaanse leiers in lyn te bring. Die koerant skryf die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio het min duidelikheid verskaf oor die VSA se planne vir Venezuela. Dit is hoofsaaklik gefokus op die land se oliebronne en die leierskap.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor ‘n aanval op die Hayes-gesin van Klerksdorp minute voor Nuwejaar op 31 Desember. Ten minste twee rowers het die gesin aangeval en Donovan Hayes is twee keer geskiet. Hy is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat sy nier verwyder is.
Dan skryf die webblad die Departement van Basiese Onderwys het die VF Plus se standpunt verwerp dat die matriekeksamen se integriteit onder verdenking is nadat vraestelle uitgelek het.
En laastens is daar nuus oor die duisende vakansiegangers en ander reisigers wat sorg vir uiters druk omstandighede by tolhekke en grensposte.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf eerstens hoekom Suid-Afrika bekommerd moet wees oor die VSA se optrede in Venezuela en die arrestasie van president Nicolás Maduro.
En tweedens word berig alle Suid-Afrikaners in Venezuela is veilig.
# Sowetan:
Verskyn weer op 7 Januarie.
# En The Citizen:
Skryf ná Trump se optrede in Venezuela is die vraag op wêreldleiers se lippe: Het dit net oor olie gegaan of wie is volgende in Trump se visier?
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die kanse is baie skraal dat Amerika Suid-Afrika sal inval aangesien die land nie oor strategiese minerale beskik soos die geval van Venezuela nie. Die VSA kan volgens kenners wel ander stappe doen soos om sanksies teen indiwidue in te stel.
En tweedens berig die koerant ook oor die integriteit van die matriekeksamen.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig twee persone is na bewering in Plettenbergbaai gebyt deur ‘n rob met hondstolheid.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n vermeende rassistiese voorval by ‘n plaaslike skibootklub.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die soektog na ten minste 12 swemmers wat by verskeie strande aan die KwaZulu-Natalse kus verdwyn het, duur voort. Drie het op Kersdag vermis geraak en nege op Nuwejaarsdag.
En tweedens word berig ouers sukkel om die verhoogde skoolgeld vir die nuwe jaar te betaal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese Departement van Internasionale Betrekkinge sê hulle het met skok kennis geneem van die inhegtenisneming van die president van Venezuela en sy vrou. Die departement sê Venezuela se soewereiniteit moet beskerm word.
En tweedens skryf die koerant oor die moord op die assistent-hoofman van die Likokola-nedersetting in die Onayena-distrik in Oshikoto, Sam Pendapala Nepando.