Nuus 06:00
BULLETIN 5 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC NUK sal vandag vergader ter voorbereiding van die 8 Januarie-verklaring
# Die Lugverkeer- en Navigasiediens sê bedrywighede by die OR Tambo-lughawe is gestabiliseer
# En die VSA minister van Buitelandse Sake sê Amerika is nie in ’n oorlog met Venezuela gewikkel nie
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee sal vandag ‘n spesiale vergadering in Noordwes byeenroep as deel van die finale voorbereidings vir die jaarlikse 8 Januarie-verklaring wat Saterdag by die Moruleng-stadion naby Rustenburg gehou sal word. Na die terugslae in die verkiesing in 2024, beoog die ANC om verlore aansien te herwin en kiesersvertroue te herstel voor die plaaslike regeringsverkiesing. Die sekretaris-generaal Fikile Mbalula het intensiewe voorbereidings bevestig, insluitend die opleiding van 200-duisend vrywilligers om ‘n kiesergesentreerde, deur-tot-deur-veldtog landwyd te verseker.
# ‘n Senior gevangenisbeampte word na bewering ondersoek na die vermeende moordverdagte Vusimuzi “Cat” Matlala na ‘n super-maksimum-fasiliteit in KwaZulu-Natal verskuif is. Volgens die Sunday Times volg die ondersoek te midde van vrese van onvanpaste verbintenisse tussen die amptenaar en Matlala by die Kgoši Mampuru II-gevangenis in Pretoria waar hy aangehou is. Die Departement van Korrektiewe Dienste ontken die bewerings en sê sekuriteitsbedrywighede het tot die oorplasing gelei en besonderhede kan nie bekend gemaak word nie. Matlala staan tereg op verskeie aanklagte, insluitend poging tot moord op sy voormalige vriendin, die aktrise Tebogo Thobejane.
# Die Lugverkeer- en Navigasiediens sê daar was gister vlugvertragings by die OR Tambo Internasionale Lughawe, wat daartoe gelei het dat passasiers vir meer as vier uur gestrand was. Tydelike menslike hulpbronbeperkings by die Lugverkeersbeheerstasie het die vertragings veroorsaak. ‘n Woordvoerder, Mphilo Dlamini, sê die vertragings het beteken dat minder beheerders vliegtuie veilig in en uit kon gelei, wat stadiger opstygings en landings veroorsaak het:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê die gevangeneming van president Nicolás Maduro is nie ‘n oorlogsverklaring teen Venezuela nie. Maduro en sy vrou, Cilia Flores, is Saterdag tydens Amerikaanse aanvalle gevange geneem. Hy word in ‘n tronk in New York aangehou en staan tereg op aanklagte van dwelmsmokkelary en wapenhandel. President Donald Trump sê die VSA sal die land bestuur totdat ‘n oordeelkundige oorgang kan plaasvind. Rubio het aan die NBC gesê hy verwag om meer nakoming en samewerking van Venezuela te sien:
# Krieket: Die Bangladesj Krieketraad het amptelik versoek dat die Internasionale Krieketraad al hul wedstryde vir die T20 Wêreldbeker skuif. Hulle sê die span gaan nie onder huidige omstandighede na Indië reis nie. Indië is saam met Sri Lanka mede-gasheer van die toernooi, wat volgende maand begin. Politieke betrekkinge tussen Indië en Bangladesj het versuur nadat die destydse premier en bondgenoot van Nieu-Delhi, Sheikh Hasina, in 2024 tydens ‘n massa-opstand in Dhaka uit die kussings gelig is. Die raad sê hul versoek is belangrik om die veiligheid en welstand van spelers en spanbeamptes te verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-307-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-367-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….