Nuus 08:00
BULLETIN 31 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gupta-baasbrein Salim Essa se aansoek om die Zondo-kommissieverslag te hersien, word afgewys
# Die Australiese polisie glo die Bondi Beach-terreurverdagtes het alleen opgetree
# En rugby: Die Bulle-afrigter verduidelik die betrokkenheid van die Springbok-afrigters by die span
# Die Gautengse Hooggeregshof het die Gupta-medewerker en vermeende staatskaper, Salim Essa, se aansoek dat die Staatskaping-ondersoekkommissie se verslag hersien word, tersyde gestel. Essa, wat Suid-Afrika in 2017 verlaat het, word betrek by talle transaksies van miljarde rand by Eskom en Transnet. Sy naam word 806 keer in die verslag genoem. Regter Dunstan Mlambo sê in die uitspraak Essa is ‘n voortvlugtige van die gereg, en deur ʼn persoon wat by staatskaping betrek word toe te laat om ʼn hersieningsaansoek te eis, sal openbare vertroue in die regstelsel ondermyn.
# Die Activists and Citizens Forum het die verskuiwing van die vermeende misdaadbaas, Vusimuzi ‘Cat’ Matlala na die eBongweni-gevangenis in Kokstad, KwaZulu-Natal, bevraagteken. Matlala staan tereg op aanklagte van poging tot moord, sameswering om moord te pleeg en geldwassery, en is verhoorafwagtend in die Hooggeregshof in Johannesburg. Dennis Bloem sê die forum wil duidelikheid hê oor die redes vir die skuif en die prosesse wat gevolg is:
# Die ANC in die Wes-Kaap het ‘n hofuitspraak verwelkom wat die Stad Kaapstad beveel om ‘n alternatiewe vergaderplek vir die Kaapse Klopse Karnivalvereniging te verskaf. Regter James Lekhuleni het die bevel gisteraand uitgereik en die stad ook gelas om die vereniging te help om te voldoen aan die regulasies vir veiligheid by sport- en ontspanningsgeleenthede. Jerimia Thunysma van die ANC sê die regering moet gemeenskappe in staat stel om hul kultuur te beoefen.
# Die Australiese federale polisie het bevestig die Bondi Beach-terreurverdagtes, wat op 14 Desember 15 mense by ʼn Hanukkah-viering doodgeskiet het, het alleen opgetree. Polisie het die 50-jarige Sajid Akram tydens die slagting doodgeskiet en die 24-jarige Naveed Akram staan tereg op 15 aanklagte van moorde, 40 van poging tot moord, asook ander aanklagte. Polisiekommissaris Krissy Barrett sê die verdagtes was byna ʼn maand in die Filippyne voor hulle op 29 November weer in Sydney aangekom het:
# Rugby: Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, het die Springbok-afrigters se betrokkenheid verduidelik en ontken hulle het te doen met voorbereiding vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-derby teen die Stormers. Die Bok-hulpafrigters Felix Jones en Jerry Flannery, SA Rugby Mobi-Unit-afrigter Duane Vermeulen, en hoof van atletiese prestasie, Andy Edwards, sal die Bulle op die kort termyn ondersteun. Ackermann sê hy verwag nie dat die Bok-afrigters ʼn wenplan voorstel nie, en voeg by enige samewerking is prakties en afwisselend.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-684-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-353-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….