Nuus 09:00
BULLETIN 31 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Justisie staan ’n aansoek teen om die aanstelling van ‘n nuwe nasionale direkteur van Openbare Vervolging te keer
# Die SA Mediese Vereniging waarsku teen druk op gesondheidsorg tydens die Nuwejaarsfeesvierings
# En sokker: Nigerië, Senegal, die DRK en Tunisië is deur na die AFCON-ronde van 16
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling sê hy sal ‘n hofaansoek teenstaan wat ʼn interdik soek teen die aanstelling van die nasionale direkteur van Openbare Vervolging. Die regsfirma, B Xulu and Partners Incorporated, voer aan die adviespaneel wat aangestel is om die land se volgende nasionale direkteur van Openbare Vervolging te vind, het nie die amptelike beswaar teen advokaat Hermione Cronjé se kandidaatskap behoorlik oorweeg nie. Die departement se woordvoerder, Terrence Manase, sê die hofaansoek is voortydig:
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging sê hospitale en klinieke ondervind hierdie feestyd verhoogde druk as gevolg van toenemende alkoholverwante noodgevalle. Die voorsitter van SAMA, Mvuyisi Mzukwa, waarsku dat ‘n toename op Oujaarsaand verwag kan word wat reeds oorwerkte personeel onder meer druk kan plaas. Mzukwa beklemtoon die risiko van uitbranding onder gesondheidswerkers namate ongevalle-lokale oorlaai word. Hy doen ‘n beroep op die publiek om verantwoordelik te drink om die las op mediese fasiliteite en personeel te verlig.
# Die Stad Kaapstad sê hy gaan appelleer teen ʼn bevel van die Wes-Kaapse Hooggeregshof dat hy dringend ʼn ander plek moet vind waar die Kaapse Klopse Karnavalvereniging sy Klopse-kompetisie kan hou. Die vereniging het in September aansoek gedoen om die Vygieskraal-stadion te gebruik, maar die versoek is slegs drie dae later geweier. Die metro-woordvoerder, Luthando Tyhalibongo, sê hulle verskil van die hof se bevinding dat hul optrede grondwetlik beskermde kulturele regte bedreig:
# Israel sê hy gaan 37 hulpgroepe wat in Gaza en die Wesoewer werk, se lisensies terugtrek. Dit volg nadat hulle nie streng nuwe regulasies nakom wat vereis dat hulle persoonlike besonderhede van Palestynse en internasionale personeel wat in die gebiede ontplooi is, oorhandig nie. Die betrokke organisasies sluit in ActionAid, Internasionale Reddingskomitee en CARE. Israel se ministerie van Diaspora-sake sê hy het genoeg waarskuwings aan hulporganisasies uitgereik oor die nuwe registrasievereistes, en sowat 15-persent nieregeringsorganisasies wat in Gaza werk, het nie hul permitte hernu nie.
# Sokker: Die driemalige kampioene, Nigerië, is deur na die Afrikabekertoernooi se laaste 16 ná ʼn oortuigende 3-1-oorwinning oor Uganda in hul laaste groepwedstryd in Marokko. Die gewese kampioene van Senegal het Benin met 3-0 verpletter om hul plek in die uitklopfase te bespreek, terwyl die Demokratiese Republiek die Kongo ook deur is nadat hulle Botswana met 3-0 verslaan het. Tunisië het gekwalifiseer nadat sy wedstryd teen Tanzanië met een-elk gelykop geëindig het. As een van die vier beste derdeplek-spanne staan Tanzanië ook ʼn goeie kans op vordering.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-343-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-347-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….