Nuus 09:00
BULLETIN 26 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Agt mense sterf in twee ongelukke in Limpopo
# Die EFF doen ‘n beroep op die mense van die wêreld om Palestina te onthou
# En die Weerdiens waarsku teen hewige donderstorms vandag
# Ses mense is dood en sewe beseer toe die bestuurder van ‘n voertuig op Oukersaand beheer verloor het en ‘n brug langs die R-518 van Mokopane na Marken in Limpopo, getref het. In nog ‘n ongeluk is twee mense dood toe ‘n bus en ‘n vragmotor gister reg van voor gebots het op die N1 tussen Masekwa Bricks en die Masekena-motorhawe in die Vhembe-distrik. Die woordvoerder van die Limpopo Vervoer- en Gemeenskapsveiligheidsdepartement, Dali Tshifhiwa, vra dat alle padgebruikers padveiligheid hierdie feestyd eerste stel:
Intussen is vyf motorbestuurders gister op verskeie snelweë en paaie in Kaapstad in hegtenis geneem vir bestuur onder die invloed van alkohol. Die stad se wetstoepassingswoordvoerder, Wayne Dyason, sê beamptes het ook by ‘n toneel in Strandfontein-strand opgedaag waar ‘n visserman tragies dood is nadat hy geval en beserings opgedoen het. Hy sê daar was ook ‘n byna-verdrinking op Muizenberg-strand waar ‘n swemmer gered en na ‘n plaaslike hospitaal vervoer is vir verdere behandeling:
# Die EFF doen ‘n beroep op die mense van die wêreld om die mense van Palestina wat steeds onderworpe is aan lugaanvalle en die besetting van hul grond deur die Israelse staat te onthou. Die party sê die mite van ‘n wapenstilstand is bewys as niks anders as ‘n taktiek om die wêreld stil te maak terwyl Israel voortgaan om Palestyne te vermoor nie. Die EFF sê die wêreld moet nooit blind wees vir hierdie gruweldade nie en moet alle pogings verskerp om Apartheid-Israel te isoleer en betekenisvolle solidariteit met die mense van Palestina te toon.
# Die Munisipaliteit van George in die Wes-Kaap ontplooi daagliks lewensredders by die munisipale blouvlagstrande by Victoriabaai, Heroldsbaai, Wilderness-hoofstrand en Leentjiesklip. Die munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, sê statistieke toon dat die kans om te verdrink by ‘n strand sonder lewensredderbeskerming byna vyf keer groter is as by ‘n strand met lewensredders:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku teen hewige donderstorms en moontlike oorstromings in verskeie dele van die land op Tweede Kersdag, behalwe vir die westelike streke, waar warm tot baie warm toestande sal heers. ‘n Geel vlak 2-waarskuwing is uitgereik vir hewige donderstorms met swaar stortreën en die moontlikheid van plaaslike oorstromings in streke soos Gauteng, die Vrystaat, die suidelike dele van Limpopo, en plekke in Noordwes, die Hoëveld en die platorand van Mpumalanga.
# En krieket: Engeland oorheers die openingsdag van die Tweede Kersdag-toets op die Melbourne Krieketveld. Nadat hulle die loot gewen en gekies het om te boul, het Engeland Australië vir slegs 152 lopies uitgeboul, aangevuur deur Josh Tongue se indrukwekkende 5-paaltjie-oes. Die gashere is steeds onoorwonne, nadat hulle die drie vorige toetse van hul vyf-toets As-reeks gewen het. Die besoekers voer self ‘n moeilike stryd teen ‘n Australiese snelboul-aanval, met die jongste beskikbare telling op 61 vir 4.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….