Nuus 10:00
BULLETIN 23 Desember 10 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Padverkeerbestuurskorporasie versoek motoriste om verkeersreëls na te kom
# Thabo Bester sê die omstandighede waaronder hy aangehou word, is ongrondwetlik
# En, Donald Trump waarsku Nicolás Maduro oor sy uitdagende houding
# Die feestyd is in volle gang en die Padverkeerbestuurskorporasie moedig voertuigeienaars aan om hul voertuie te herstel en lisensies te hernu. Verlede jaar tydens die feestyd het voertuigfaktore 6,9-persent bygedra tot die totale noodlottige ongelukke in die land. Hiervan was 65,7-persent omdat bande gebars het en 11,4-persent weens foutiewe remme. Die korporasie se woordvoerder, Simon Zwane, sê mense wie se lisensieskyfies verval het, kan beboet word:
# Die gevonnisde verkragter en moordenaar, Thabo Bester, het ‘n dringende aansoek by die Gautengse Hooggeregshof ingedien om, wat hy ongrondwetlike aanhoudingstoestande noem, tersyde te stel terwyl hy verhoorafwagtend is. Hy voer aan sy aanhoudingtoestande, insluitend eensame opsluiting by die Kgosi Mampuru-tronk, is nie dié van ʼn gewone beskuldigde persoon in aanhouding hangende uitspraak in sy strafregtelike saak nie. Kgosi Mampuru se waarnemende hoof, Ntsizi Qebengu, sê Bester se aanhouding is in ooreenstemming met die feit dat hy ʼn veroordeelde moordenaar en verkragter is.
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê daar is ses-duisend-855 appèlle teen plasings as deel van die 2026 aanlyn toelatingsproses vir graad 1 en 8. Hiervan is 73-persent reeds hanteer. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die appèlproses bly op ʼn gevorderde stadium en die uitkoms word aan ouers en voogde oorgedra. Hy herinner ouers dat die appèl se uitslag finaal is:
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê die beste stap vir Venezuela se president Nicolás Maduro is om uit te tree. Spanning tussen die twee lande is aan die toeneem, te midde van ‘n massiewe Amerikaanse vlootopbou in die Karibiese See. Trump plaas druk op Maduro, onder meer met pogings om sy olie-inkomste te verminder. Trump het verlede week ‘n volledige blokkering gelas op gesanksioneerde olietenkers wat in en uit Venezuela vaar. Hy het Maduro gewaarsku om nie ‘n tawwe tienie te probeer wees nie:
# Krieket: Die Australiese kaptein Pat Cummins en die veteraan-draaibouler Nathan Lyon is uitgelaat uit die groep van 15 vir die vierde toets om die As teen Engeland, wat Vrydag in Melbourne begin. Cummins rus nadat hy onlangs ná ‘n rugprobleem teruggekeer het, terwyl Lyon sy regterdyspier in die derde toets beseer het en ‘n operasie moet ondergaan. Die wegbreekbouler Todd Murphy en die snelbouler Jhye Richardson is deel van die groep. Steve Smith sal die span in Cummins se afwesigheid aanvoer. Australië het ‘n onbetwiste voorsprong van 3-0 in die reeks.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-743-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-475-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….