Nuus 11:00
BULLETIN 23 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Forum for South Africa veroordeel die voorgestelde salarisverhogings vir openbare ampsdraers
# Minister Barbara Creecy blameer verkeersoortredings as hoofoorsaak van padongelukke
# En Soil of Africa verwelkom die deurbraak in die Saulsville-massaskietery
# Die Forum for South Africa veroordeel die aanbeveling dat openbare ampsdraers ‘n salarisverhoging van 4,1-persent kry. Die onafhanklike kommissie vir die vergoeding van openbare ampsdraers se aanbeveling is vir die 2025/2026-boekjaar. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê enige salarisverhogings vir openbare ampsdraers moet bevries word tot misdaad aansienlik daal, korrupsiesake tot skuldigbevindings lei, en dienslewering verbeter:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, vra kalmte en die nakoming van verkeerswette, terwyl verkeersoortredings vóór nog ‘n week van druk verkeer tydens die Kers- en Nuwejaarsvakansie toeneem. Die Padverkeersbestuurskorporasie het tot dusver hierdie feestyd reeds 50-duisend verkeersboetes vir spoedoortredings uitgereik, met 255 bestuurders wat in hegtenis geneem is vir hoë spoed en die oorskryding van spoedgrense. Creecy vra motoriste om hul veiligheidsgordels te gebruik, by die spoedgrens te hou, nie te drink en bestuur nie, en elke twee ure te rus.
# Die Soil of Africa voorspraakgroep het die inhegtenisneming van ‘n verdagte in verband met die massaskietery in Saulsville verwelkom. Twaalf mense is dood toe drie gewapende mans meer as twee weke gelede op mense in ‘n ongelisensieerde taverne in die Tshwane-township losgebrand het. Die jongste slagoffer was ‘n driejarige kind. Die groep se voorsitter, Bongani Ramontja, sê mense wat verantwoordelik is vir die terrorisering van gemeenskappe moet die volle regsgevolge dra:
# Denemarke se minister van Buitelandse Sake, Lars Løkke Rasmussen, sê hy is ontsteld oor die aanstelling van Louisiana se goewerneur, Jeff Landry, as Amerika se spesiale gesant in Groenland. President Donald Trump van Amerika sê Landry verstaan hoe noodsaaklik Groenland vir nasionale veiligheid is en sal die land se belange rondom die veiligheid, sekuriteit en oorlewing van Amerikaanse bondgenote, bevorder. Rasmussen sê Landry se opmerkings dat hy graag wil sien dat Groenland deel van die Verenigde State word, is kommerwekkend.
# Rugby: ‘n Appèl deur ‘n groep professionele en amateur-rugbyspelers wat beweer hulle het langtermyn neurologiese skade tydens hul loopbane opgedoen, is van die hand gewys. Die spelers beweer Wêreldrugby, die Walliese Rugbyunie, Engeland se Rugbyvoetbalunie, die Rugbyvoetballiga en die Britse Amateur Rugbyligavereniging het ‘n sorgplig verbreek om hulle teen beserings te beskerm. Hulle beweer hulle leef nou met toestande soos vroeë demensie, Parkinson se siekte en epilepsie. Die beheerliggame het in ‘n gesamentlike verklaring herhaal dat die welstand van spelers ‘n sentrale prioriteit bly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-48-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-485-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….