Nuus 11:00
BULLETIN 22 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Forum for South Africa bevraagteken meer as nege-duisend polisiebeamptes se bevordering na hoër range
# Die Borders Bus Association maan busoperateurs om nie veiligheidsregulasies te oortree nie
# En tennis, die Amerikaner Learner Tien is die Next Gen ATP-kampioen
# Die Forum for South Africa sê nege-duisend-548 polisiebeamptes se bevordering na hoër range herstel nie die gebroke polisiëringstelsel wat geteister word deur korrupsie, politieke inmengery en swak leierskap nie. Die bevordering is gemik op beamptes wat langer as tien jaar hul huidige rang beklee. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê daar is geen openbare sekerheid dat die betrokke beamptes behoorlik nagegaan is nie:
# Die African Unite Borders Bus Trucks Association doen ‘n beroep op busoperateurs om nie veiligheidsregulasies te oortree en Suid-Afrikaanse wetstoepassing te ondermyn nie. ʼn Bus wat van KwaZulu-Natal na Zimbabwe op pad was, is gister by die Zebediela-weegbrug in Limpopo onderskep. Die bus is gesertifiseer vir 63 passasiers, maar daar was 82 aan boord. Die vereniging se voorsitter, Mukhwathi Phumudzo, sê dis ʼn oortreding van veiligheidsregulasies:
# ActionSA kritiseer die koste van die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, se vier internasionale reise tussen Junie en September vanjaar. Die minister het op ʼn parlementêre vraag gesê dit het belastingbetalers 5,6-miljoen-rand gekos. Dit bring sy totale reiskoste sedert die vorming van die regering van nasionale eenheid in Julie verlede jaar op sowat 11,8-miljoen-rand te staan. Hy het in Junie die BRICS-gesondheidsberaad in Brasilië bygewoon, daarna het hy deelgeneem aan die dialoog vir senior gesondheidsleiers in Londen, en sy ander reis was na die WGO-streekskomitee vir Afrika in Zambië.
# Die Amerikaanse president Donald Trump, se spesiale gesant Steve Witkoff, sê hy het oor die naweek produktiewe en opbouende gesprekke met Oekraïnse en Europese verteenwoordigers in Miami gevoer. Die vergadering het gefokus op die belyning van standpunte rondom die 20-punt-plan; raamwerke vir ‘n multilaterale veiligheidswaarborg asook ‘n Amerikaanse veiligheidswaarborg vir Oekraïne; en ‘n ekonomiese en voorspoedplan. Witkoff sê vrede is nie net ‘n staking van vyandelikhede nie, maar moet ook ‘n waardige grondslag wees vir ‘n bestendige toekoms vir Oekraïne.
# Tennis: Die Amerikaner, Learner Tien, het sy tweede loopbaantitel ingepalm toe hy die Next Gen ATP-toernooi in Jeddah, Saoedi-Arabië, gewen het. Die 20-jarige het die Belg Alexander Blockx met 4-3, 4-2, 4-1 verslaan en daarmee wraak geneem vir sy tweede plek verlede jaar in dieselfde toernooi. Tien is slegs die derde top-gekeurde wat die titel verower, en volg in die voetspore van Stefanos Tsitsipas en Carlos Alcaraz. Hy sê hy is bly hy kon vanjaar beter vaar:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-en-7-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-415-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….