Nuus 09:00
BULLETIN 19 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika het bateherwinning binne die G20-werkgroep teen korrupsie eerste gestel
# Die minister van Toerisme erken dat veiligheidskwessies toeriste kan afskrik
# En die Australiese regering stel ‘n nasionale terugkoopskema in vir vuurwapens
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê Suid-Afrika het onder sy G20-presidentskap voorkeur gegee aan bateherwinning in die G20-werkgroep teen korrupsie. Sedert Augustus 2025 het die Nasionale Vervolgingsgesag se Batebeslagleggingsvereniging agt-duisend-456 bevriesingsbevele bekom met ‘n geskatte waarde van 31,3-miljard-rand. Kubayi het by ʼn konferensie in Katar gesê die werksgroep het hoëvlakbeginsels ontwikkel vir die administrasie van bates waarop beslag gelê is:
# Die minister van Toerisme Patricia de Lille sê die regering het met die privaatsektor en wetstoepassing in vennootskap getree om veiligheidsmaatreëls vir toeriste te versterk. Lande soos Amerika, Kanada en China het reiswaarskuwings vir hul burgers uitgereik oor die misdaad in Suid-Afrika. De Lille sê haar departement het vir die vakanseisoen 202 veiligheidsmonitors by die Grensbestuursowerheid ontplooi en ten minste 40 by die OR Tambo-lughawe. Die minister sê ten spyte van uitdagings met veiligheid, wys die toerismesektor sterk groei.
# Die Vryheidsfront Plus sê die Hooggeregshof in Pretoria se afwysing van die Stad Tshwane se poging om privaat brandbestrydingsdienste onwettig te verklaar, is ‘n klinkende sukses vir gemeenskapsveiligheid. Die metro het ‘n interdik probeer kry om Fidelity SecureFire te keer om diens as brandbestryders lewer. Grandi Theunissen van die VF Plus sê hierdie mislukte aansoek is ‘n direkte gevolg van die ANC/EFF/ActionSA-koalisie se swak regering:
# Die Australiese eerste minister, Anthony Albanese, het ʼn nuwe nasionale terugkoopskema aangekondig om oortollige, pas verbode en onwettige vuurwapens terug te koop. Dit volg na Sondag se slagting op Bondi-strand waarin 15 mense doodgeskiet is. Dis die grootste skema sedert die Port Arthur-massaslagting in 1996 waarin 35 mense dood is. Albanese sê daar is meer as vier-miljoen vuurwapens in die land, wat meer is as tydens die Port Arthur-slagting:
# Sportpersoonlikheid 2025: Die gholfspeler Rory McIlroy is gekies as die BBC Sportpersoonlikheid van die jaar 2025. Die Noord-Ier is slegs die sesde man en eerste Europeër om die loopbaan Grand Slam te haal toe hy in April die Meesters gewen het. Team Europe is aangewys as span van die jaar met hul Ryderbeker-sukses. Sarina Wiegman wat Engeland se vrouesokkerspan gelei het tot agtereenvolgende Europese kampioenskaptitels, is afrigter van die jaar. Vir die tweede opeenvolgende jaar gaan die titel van Wêreldsportster van die Jaar aan die Sweedse paalspringer Armand Duplantis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-74-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-317-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….