Nuus 06:00
BULLETIN 19 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bevestig die benoemdes vir die nasionale dialoog se reëlingskomitee
# AfriForum sê privaat brandbestryders is noodsaaklik in Tshwane
# En krieket: Die vrouespanne van die Proteas en Ierland pak mekaar vandag in die laaste eendagwedstryd
# President Cyril Ramaphosa het die benoemings vir die reëlingskomitee van die nasionale dialoog bevestig. Die komitee, wat bestaan uit verteenwoordigers van 33 maatskaplike sektore, ses subsektore en bykomende gekoöpteerde lede, sal prioriteite bepaal en die inklusiewe, burgerlik gedrewe proses koördineer. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die komitee sal na verwagting volgende maand sy eerste vergadering en induksie hou, met Ramaphosa wat lede sterkte toewens met hul belangrike taak:
# Die Openbare Beskermer het met ‘n ondersoek begin na die geskorste uitvoerende hoof van die Nasionale Behuisingsfinansieringskorporasie, Azola Mayekiso, oor bewerings van mislukte bestuur en onreëlmatige uitgawes. Die bewerings sluit in Mayekiso se versuim om haar betrokkenheid by 28 maatskappye bekend te maak, onreëlmatige aanstellingsprosesse, en oorsese reise na die VSA en Londen deur haar en die voormalige raadsvoorsitter, wat byna een-miljoen-rand gekos het. Sy is op 17 November geskors hangende ondersoeke na beweerde ernstige wangedrag.
# AfriForum versoek die Stad Tshwane om nóú saam met vrywilligers en privaat brandbestryders te werk, aangesien hulle ‘n belangrike rol speel waar munisipale dienste tekortskiet. Dit volg na ‘n uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria dat privaat en vrywillige brandbestrydingsdienste wettig is, en die Metro se poging om hulle te verbied van die hand gewys het. Tarien Cooks van AfriForum het ‘n beroep gedoen op groter samewerking tussen die munisipaliteit en privaat brandbestryders om brandsekerheid vir inwoners te verbeter:
# Die Europese Unie beplan om sy koolstofgrensheffing uit te brei om motoronderdele, wasmasjiene en ander vervaardigde goedere in te sluit. Die Europese Kommissie het voorstelle gepubliseer en daarvolgens sal die Koolstofgrens-aanpassingsmeganisme ook skuiwergate uitskakel sodat buitelandse ondernemings alle uitstralings moet rapporteer. Die heffing, wat vanaf Januarie gehef sal word, dek reeds hoë-uitstralings-invoere soos staal en sement. Sakegroepe verwelkom hierdie skuif en sê sektore met die grootste gevaar vir koolstoflekkasies word geteiken.
# Krieket: Vandag se derde en laaste eendagwedstryd tussen die Protea-vroue en Ierland in Johannesburg gaan geen uitwerking hê op die reeks nie. Suid-Afrika het dit reeds beklink deur die eerste twee kragmetings te wen. Die gasvroue het die besoekers eers in Oos-Londen met sewe paaltjies verslaan, en toe in Gqeberha met 74 lopies. Dit het gevolg op hulle oorwinning van 2-0 in die T20-reeks nadat die laaste wedstryd in Benoni uitgereën het. Vanmiddag se aksie op die Wanderers begin een-uur.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-355-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-335-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-35-sent per vat.
# En ten slotte: Vier jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes het uitstekend presteer tydens die Olimpiade vir die Wêreld Innoverende Wetenskapprojek in Bali, Indonesië. Albertus van Niekerk het ‘n goue medalje en ‘n gesogte groot toekenning ontvang vir sy navorsing oor die gebruik van laventelolie as ‘n omgewingsvriendelike swamdoder vir sitrus. Ismaail Hassen het ‘n goue medalje ontvang vir die skep van ‘n draagbare navigasietoestel vir siggestremdes. Milla Vorster en Dzunisa Chauke het silwer medaljes verwerf vir projekte in 3D-biodrukwerk en die opsporing van klank wat met kunsmatige intelligensie gegenereer is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….