Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Desember 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Suid-Afrikaanse Produkteprysindeks is volgens StatsSA onveranderd op 2,9-persent vir November in vergelyking met die vorige maand.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Publiseer vandag die sogenaamde rapporte van president Cyril Ramaphosa se kabinet. Die voorblad bestaan uit ‘n montage van kabinetslid-foto’s
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Shamila Batohi is gekritiseer oor haar optrede voor die portefeuljekomitee oor Justisie en Staatkundige Ontwikkeling. Sy het geweier om verder getuienis te lewer sonder regsverteenwoordiging.
En tweedens skryf die webblad die Demokrate in die Huis van Verteenwoordigers het nog 68 foto’s uit wyle Jeffrey Epstein se boedel vrygestel. Daarop verskyn talle bekendes in die geselskap van jong vroue.
GAUTENG:
# The Star:
Stel ondersoek in na die sindikate wat geboue in Suid-Afrikaanse stede kaap en herverhuur aan mense wat raadop is met woonplek.
En tweedens skryf die koerant twee oorlaaide busse is reeds by grensposte afgetrek.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die besluit oor die paroolaansoek van die Griekwastad-moordenaar wie se naam nou ingevolge wetgewing nie meer genoem mag word nie. Hoewel hy parool ontvang het, sê die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald dit sal eers verder ondersoek word.
En tweedens skryf die koerant die metro het die Christelike simbole in Kaapstad se feesliggies uitgewys – dis nooit verwyder nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die raad van die Mandelabaai Ontwikkelingsagentskap het sy uitvoerende hoof, Anele Qaba oor beweerde finansiële wanbestuur geskors.
En tweedens skryf die koerant oor die begrafnis en gedenkdiens vir die kletsberymer Junior King. Hy is vroeër skielik oorlede.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Hooggeregshof in Pietermaritzburg het beslis die eThekwini Munisipaliteit moet sy voortdurende rioolkrisis, wat die gebruik van strande in Durban beïnvloed, oplos.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië staar ‘n elektrisiteitsuitdaging in die gesig namate die groei in huishoudings die vermoë van die nasionale kragnetwerk oorskry.
Dan skryf die koerant die Hooggeregshof het ‘n hofbeslissing verwerp wat sleutelbewyse in die siviele saak van Fishrot geblokkeer het.
En laastens is daar nuus oor ontwrigtings in internet- en telefoondienste weens koperkabeldiefstal wat ‘n uitwerking op ondernemings en inwoners het.
Koerantverslag verskyn weer op Maandag 5 Februarie.