Nuus 09:00
BULLETIN 19 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die SAOG sal vrye en regverdige verkiesings in Madagaskar verseker
# Die ANC vra vir dringende optrede teen misdaad in in Johannesburg se middestad
# En die Oscars sal vanaf 2029 regstreeks op YouTube gestroom word
# President Cyril Ramaphosa sê die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het sy betrokkenheid herbevestig om aktief betrokke te bly by die politike en veiligheidsituasie in Madagaskar totdat die verkose regering deur die verkiesingproses ingestel is. Hy was Woensdag in sy amp as waarnemende voorsitter, die voorsitter in die Buitengewone Beraad van die SAOG se staatshoofde en regerings. Ramaphosa het beklemtoon samewerking is die sleutel tot bestendigheid, vrede en vooruitgang van die streek:
# Die ANC vra spoedige en vasberade optrede om Warrick Stock, ook bekend as DJ Warras, se moordenaars aan te keer en te vervolg. Die 40-jarige Stock is Dinsdag naby die Calton-sentrum in Johannesburg se middestad doodgeskiet. ‘n ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê hierdie afskuwelike misdaad is ʼn regstreekse aanval op die samelewing en beklemtoon die wetteloosheid en misdaadkrisis wat die middestad teister:
# Die Oos-Kaapse LUR vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid, Xolile Nqatha, het die voorval veroordeel waarin agt mense in afsonderlike voorvalle in die Walmer-township in die Baai doodgeskiet is. Vier mans is Dinsdag doodgeskiet. Sondag is ʼn 39-jarige man in Mankazana-straat doodgeskiet, terwyl drie ander liggame met skietwonde by Airport Valley gevind is. Die LUR se woordvoerder, Makhaya Komisa, sê hulle soek na die verdagtes:
# Atletiek: Die president van Wêreldatletiek, Sebastian Coe sê hy is ook gefrustreerd deur die belaglike situasie rondom die geskorste Keniaanse atleet Ruth Chepngetich se marathon-wêreldrekord, maar daar is niks wat hy kan doen nie. Die Keniaan het verlede Oktober die verstommende tyd van drie-uur nege-minute 56-sekondes in die Chicago-marathon aangeteken en hoewel sy vanjaar ‘n driejaar skorsing vir verbode middels ontvang het, is haar uitslae eers in Maart gekanselleer. Coe sê die wet bepaal dat slegs ‘n positiewe toets en bewyse van dwelmoortreding aanvaar word, wat hulle nie het nie.
# Finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 22-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-854-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-331-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-78-sent per vat.
# En ten slotte: Die Academy of Motion Picture Arts and Sciences het ‘n meerjarige kontrak onderteken wat aan YouTube die alleenreg gee om van die begin van 2029 af die Oscars te beeldsend. Die ooreenkoms sal tot in 2033 geld. ABC, in die besit van Disney, was dekades lank die tuiste van die Oscars en die beeldsending sal tot in 2028 voortgaan. Die akademie sê deur die samewerking sal hulle in staat wees om rolprentteater te vier, nuwe geslagte rolprentmakers te inspireer en op ongekende wêreldskaal toegang tot hulle rolprentgeskiedenis te bied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….