Nuus 08:00
BULLETIN 19 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie oorhandig sy tussentydse verslag aan president Ramaphosa
# Drie mense word vir ondervraging aangehou in verband met DJ Warras se moord
# En tennis: Carlos Alcaraz groet sy afrigter na sewe jaar
# Die Madlanga-kommissie het gister sy tussentydse verslag aan president Cyril Ramaphosa oorhandig presies drie maande nadat die kommissaris van polisie in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, as die eerste getuie verskyn het. Altesaam 37 getuies is aangehoor. Daar was 28 instap-voorleggings en 45 van die 89 voorleggings aan die kommissie se inbellyn was aanvaarbaar. Die kommissie is ondersteun deur verdere getuies wat vorendag gekom het om te help met die ondersoek na bewerings van misdadigheid en politieke inmenging in die regstelsel.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê Suid-Afrika het albei siklusse van die Instellingshersieningsmeganisme suksesvol afgehandel. Sy het die 11de sitting van die Konferensie vir Staatspartye van die Verenigde Nasies se konvensie teen korrupsie in Doha, Katar, toegespreek. Kubayi sê verskeie maatreëls soos wetgewing, nasionale teenkorrupsie-strategie, en beleid is hersien om maatreëls teen korrupsie te versterk:
# Drie mense is aangekeer vir ondervraging in verband met die moord op Warrick Stock, ook bekend as DJ Warras. Die 40-jarige 5FM- en Cliff Central-aanbieder is Dinsdag in Johannesburg se middestad doodgeskiet. Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir Openbare Veiligheid, Mgcini Tshwaku, sê die polisie het vrou in hegtenis geneem as persoon van belang. Sy het volgens berigte voorheen in die Zambesi-gebou gewoon waar DJ Warras geskiet is.
# Nick Reiner, seun van die vermoorde Hollywood-regisseur Rob Reiner en sy vrou Michele Singer, het gister die eerste keer in die hof verskyn. Hy het sy reg laat vaar om op twee aanklagte van moord in die eerste graad te pleit. Die 32-jarige Reiner word aangekla van die moord op sy ouers. Die mediese ondersoeker van LA-distrik het bevind die egpaar is met ‘n skerp voorwerp vermoor. Reiner se prokureur, Alan Jackson, het die publiek gevra om nie te vinnig te oordeel nie:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, en sy afrigter Juan Carlos Ferrero se paaie skei na sewe jaar. Die 45-jarige Ferrero het sy landgenoot gehelp om 24 loopbaantitels, insluitend al ses sy Grand Slam-titels, en agt ATP Meesters 1000-krone op te raap. Geen redes is vir die stap verskaf nie. Alcaraz sê in ʼn inskrywing op sosiale media dat Ferrero hom as atleet, maar meer nog as persoon, laat groei het. Alcaraz sal voortgaan om saam met Samuel Lopez te werk, wat verlede jaar by die span aangesluit het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 22-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-472-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-335-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….