Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, en die Onderwys-LUR Matome Chiloane, het 560-miljoen-rand se beurse oorhandig. Dit gaan aan meer as vierhonderd-duisend topstudente van die provinsie se gratis skole en skole vir leerders met spesiale behoeftes. Die beurse kom van die Gauteng City Region Academy Bursary Scheme. Die beurs dek onderrig, boeke, verblyf, vervoer, ‘n eenmalige bedrag vir ʼn skootrekenaar, en ʼn toelaag om van te lewe. Dit dek ook voor- sowel as nagraadse studies. Meer as 90-persent van die skema se begunstigdes is swart en byna 60-persent is vroue.
Die Padongelukkefonds sê intussen hy gaan ses top provinsiale leerders in die Spesiale Onderwysbehoefte-kategorie met beurse ondersteun om aan tersiêre instellings te studeer. Die beurse dek klasfooie, huisvesting, handboeke, skryfbehoeftes, mediese uitgawes en ‘n studentetoelaag vir die duur van hulle kursusse terwyl hulle suksesvol is. Die bestuurder van die fonds, Noluthando Mvabaza, sê hulle gaan ook die top drie nasionale leerders met gespesialiseerde skootrekenaars, selfone, oorfone, slim stapkieries en sensors toerus om in hulle spesiale behoeftes te voorsien:
# Meer as 400-duisend besoekers het die Wes-Kaap se toerismebestemmings in Desember besoek, insluitend die Tafelberg-kabelspoor, Kaap die Goeie Hoop en Robbeneiland. Die Kaapstadse Internasionale Lughawe het verlede maand ‘n toename van 17-persent ondervind, terwyl die binnelandse aankomssaal op ‘n jaargrondslag ‘n styging van 21-persent aangeteken het. Die LUR vir Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger, sê ná dié toerismeseisoen wat al die provinsie se vorige rekords oortref het, moet almal nou die momentum benut om die ekonomie verder uit te brei:
# Die Stad Ekurhuleni het sy Clean Your Kasi, Manje Namhlanje veldtog van stapel gestuur. Die veldtog op voetsoolvlak is gemik op die bekamping van onwettige storting en die agterstand in die sny van gras wat oral in die metro sy kop uitsteek. Die stad se woordvoerder, Zweli Dlamini, sê die veldtog het ten doel om groter samewerking met inwoners en gemeenskappe te bevorder om na hulle onmiddellike omgewing om te sien:
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse rolprent Runs in the Family het ‘n benoeming vir ‘n GLAAD Media-toekenning ontvang in die afdeling van Uitsonderlike Fliek, stroming of TV-kategorie. Die fliek volg die avontuur van ‘n Indiese pa en sy transgender seun wat van die een kant van Suid-Afrika na die ander ry om die seun se ma uit ‘n rehabilitasiekliniek te red. Ander benoemings saam met Runs in the Family – wat tans op Netflix te sien is – sluit in Renaissance van Beyoncé, Rustin deur Barack en Michelle Obama se produksiemaatskappy, Higher Ground, en All Of Us Strangers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….