Nuus 15:00
BULLETIN 17 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie dagvaar weer die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie
# ‘n Verslag toon mislukte voedselveiligheids-wette in die Gautengse informele sektor
# En rugby: Die Curriebekerpremierliga skop hierdie naweek af
# Die Madlanga-kommissie het ‘n nuwe dagvaarding uitgereik aan die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson. Woordvoerder Jeremy Michaels het bevestig sy is terug by die werk nadat sy in die hospitaal was. Die kommissie ondersoek bewerings van magsmisbruik in verband met ondersoeke deur Misdaadintelligensie, asook aantygings dat Johnson vir generaal-majoor Feroz Khan beskerm het in ‘n saak van aanranding en intimidasie. Michaels sê ‘n nuwe verskyningsdatum sal aangekondig word.
# Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad veroordeel aksentgebaseerde diskriminasie te midde van voortdurende immigrasiespanning. Uitvoerende hoof Keaobaka Seshoka het aan die SABC gesê taal is nie ‘n geldige aanduiding van nasionaliteit nie en waarsku daarteen om mense se burgerskap volgens hul aksent te beoordeel. Sy sê aksente moet nooit as verdag beskou word nie, aangesien baie Afrikatale grense oorsteek. Seshoka vra respek vir meertalige regte en waardigheid vir almal, ongeag hul aksent of moedertaal:
# Openbare Beskermer Kholeka Gcaleka het bevind Gaugtengse munisipaliteite versuim om voedselveiligheids-wette in die informele sektor af te dwing. Meer as 16-duisend-240 kosverkopers voldoen nie aan regulasies nie, terwyl die provinsie slegs 30-persent van die vereiste omgewings-gesondheidsinspekteurs in diens het. Gcaleka sê die versuim kan verbruikers-veiligheid in gedrang bring. Sy verwys ook na skoolvoedingskemas wat nie voldoen nie, en bewyse van moontlike bedrog waarby spazawinkel-eienaars betrek word:
Nuus uit die buiteland:
# Iranse staatsmedia en ‘n Siriese militêre bron sê Iran het vroeër vandag die ooste van Sirië aangeval in die eerste bekende Iranse aanval op Siriese grondgebied sedert die Midde-Oosterse oorlog vroeër vanjaar begin het. Iran se Revolusionêre Wag sê hy het ‘n Amerikaanse bevelsentrum in Sirië aangeval as vergelding vir Iranse soldate wat in Iranshahr gesterf het. ‘n Siriese militêre bron het aan Reuters gesê Iran het ‘n aanval naby Tanf uitgevoer, maar het nie die basis self getref nie.
# Rugby: Die Curriebekerpremierliga skop hierdie naweek af met die Pumas wat die Haaie vanmiddag vyf-uur in die Mbombela-stadion ontmoet. Die verdedigende kampioen, Griekwas, begin vanaand net na sewe hul veldtog in Kaapstad teen die Stormers-23. Die Curriebeker-eersteliga se halfeindstryde word môremiddag beslis wanneer die Oostelike Provinsie die Valke in Gqeberha ontvang, en die SWD Arende verwelkom die Luiperds in George. Verlede jaar se kampioen, die Griffons, het nie vir die uitspeelrondes gekwalifiseer nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-87-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-992-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….