Nuus 06:00
BULLETIN 17 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping is noodsaaklik vir versoening
# Die Madlanga-kommissie sal vandag sy voorlopige verslag aan Ramaphosa oorhandig
# En rugby: SA Rugby bring hulde aan Lusanda Dumke
# President Cyril Ramaphosa sê solank die meerderheid swart Suid-Afrikaners in armoede leef, en ongelykheid voortduur, sal Suid-Afrika nie ware versoening vind nie. Hy het gister die geleentheidsrede gelewer tydens die nasionale herdenking van Versoeningsdag by die Ncome Museum in KwaZulu-Natal. Ramaphosa sê die nastrewing van inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping, pogings om armoede te verminder en die lewenskoste te verlaag, is noodsaaklik vir versoening:
Ramaphosa sê ook dit is kommerwekkend dat daar diegene, binne en buite die land, is wat hul uiterste bes doen om ‘n vals prentjie van die Suid-Afrikaanse omgewing te skets. Ramaphosa sê die land se kritici skilder ‘n vals prentjie wat ontwerp is om vrees en haat te saai, maar hulle sal nie slaag nie:
# Die Madlanga-ondersoekkommissie oorhandig vandag sy voorlopige verslag aan president Cyril Ramaphosa, maar hy sal dit nie openbaar maak nie. Fase 1 handel oor die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings wat politieke inmengery by die SAPD, die ontbinding van die taakspan oor politieke moorde, en vermeende korrupsie by die Ekurhuleni-metropolisie insluit. Woordvoerder Vincent Magwenya sê Ramaphosa sal die bewyse nagaan voor hy die finale verslag vrystel:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het 38 maatskappye regoor Gauteng, Noordwes, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal geïdentifiseer wat versuim het om goedere of dienste te lewer, of foutiewe produkte verskaf het nadat hulle aanlyn betaling ontvang het. Baie van hierdie verskaffers is onopspoorbaar, het van geregistreerde adresse verdwyn of webwerwe gesluit, wat verbruikers gestrand laat. Die kommissie sê voorlopige bevindinge dui daarop dat sommige operateurs wettige besighede naboots, wat die groeiende risiko’s in die aanlyn mark beklemtoon, asook die behoefte aan waaksaamheid wanneer goedere of dienste digitaal gekoop word.
# Die Suid-Afrikaanse platejoggie en mediapersoonlikheid Warrick “DJ Warras” Stock is gister in Johannesburg doodgeskiet. Die 40-jarige, wat by 5FM en nou by CliffCentral gewerk het, is buite die Carlton-sentrum doodgeskiet. Volgens berigte was DJ Warras aktief betrokke by ‘n sekuriteitsmaatskappy, en hulle was besig met uitsettings toe ‘n onbekende gewapende man hom trompop doodgekiet het. Sy suster Nicole Stock het haar broer se moord as ‘n geweldige verlies beskryf:
# Rugby: Die president van SA Rugby, Mark Alexander, het hulde gebring aan die Springbok-vroue se voormalige kaptein, Lusanda Dumke, wat Dinsdag in Oos-Londen aan ‘n skaars soort maagkanker dood is. Sy was 29. Dumke was SA Rugby se Vrouespeler van die Jaar in 2022, het in 33 toetse uitgedraf en was drie keer Springbok-kaptein. Sy het in haar loopbaan ook in die Springbok-vroue se sewespan gespeel. Alexander sê sy sal onthou word as ʼn simbool van moedigheid, leierskap en veerkrag wat ver bo haar jare was.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-657-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-306-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 58-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….