Nuus 18:00
BULLETIN 15 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu veroordeel Donald Trump se bewerings oor Afrika
# ‘n Standard Bank-studie bevind finansiële druk veroorsaak uitdagings in Januarie
# En, die verkeersowerheide in drie provinsies toon geen verdraagsaamheid teenoor omkopery en korrupsie nie
# Die vakbondfederasie Saftu het uitgevaar teen wat hy beskryf as die Amerikaanse president, Donald Trump, se roekelose, imperialistiese en ernstige rassistiese uitsprake en optrede. Dit volg op sy onlangse bewerings dat hy vrede bewerkstellig het tussen Rwanda en die Demokratiese Republiek die Kongo, en dat Afrikalande wil hê hy moet na hulle kom en hul minerale neem. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê die bewerings is feitelik verkeerd:
# Januarie voel vir baie Suid-Afrikaners buitengewoon lank as gevolg van die gaping tussen betaaldae in Desember en Januarie. ‘n Standard Bank-ontleder, Shené Mothila, sê openbare vakansiedae, feestydverlof en -besteding veroorsaak vroeg in Januarie finansiële uitdagings. Mothila sê kliënte moet finansies meer doeltreffend beplan en bestuur:
# Die Padverkeerbestuurskorporasie sê agt motoriste is sedert die begin van die feestyd-padveiligheidsveldtog aangekeer omdat hulle probeer het om verkeersbeamptes om te koop. Die inhegtenisnemings was in die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en Gauteng. Die korporasie se woordvoerder, Simon Zwane, sê hulle is bemoedig deur beamptes se moed om omkopery en korrupsie te hanteer:
#Netbal: Die afrigter van die Proteas, Jenny van Dyk, sê die telling wys nie hoe diep haar spelers moes delf om Uganda te klop en die Afrikabeker gister in Malawi in te palm nie. Suid-Afrika het met 56-34 gewen nadat hulle van die begin af voor was en daarmee hul rekord vyfde kontinentale kroon verseker. Van Dyk sê hulle het geweet Uganda sou hulle hard laat werk, en hulle het ‘n baie sterk wedstrydplan gehad. Sy het gedin hulle sou ten minste 60 doele nodig hê om die wedstryd te wen, maar is verheug met die telling.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-566-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-328-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-60-sent per vat.
# En laastens, Sir Cliff Richard het onthul dat hy die afgelope jaar vir prostaatkanker behandel is. Die 85-jarige Britse sanger sê die siekte is in remissie en hy steun oproepe vir ‘n nasionale siftingstoets vir mans. Hy was op die punt om ‘n toer deur Australië en Nieu-Seeland te begin toe die kanker tydens ‘n roetine mediese ondersoek ontdek is. Die Britse Nasionale Siftingskomitee het vroeër besluit om nie massasifting vir prostaatkanker aan te beveel nie en het ‘n geteikende siftingsprogram elke twee jaar voorgestel vir mans met spesifieke genetiese mutasies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….