Nuus 08:00
BULLETIN 16 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die ANC-jeugliga moet hernuwing najaag in aanloop tot die 2026-verkiesing
# Die Wes-Kaap verskerp feestydverkeersoptrede met alkohol-verwante arrestasies wat toeneem
# En krieket: Verskillende scenario’s wag hierdie week op die Protea-vroue- en -manspanne
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê die ANC-jeugliga moet ‘n aksieplan vir hernuwing en verjonging ontwikkel wat op die riglyne van die vyfde Nasionale Algemene Raad gebaseer is. Hy het die jeugliga se 27ste verkiesingskonferensie in Seshego, Limpopo, toegespreek en afgevaardigdes aangemoedig om die beweging te gebruik as agent vir verandering en jongmense beter te mobiliseer. Hy sê die liga moet jongmense se belangstellings ondersteun in aanloop tot die 2026 munisipale verkiesing:
Ramaphosa lei vandag die nasionale herdenking van Versoeningsdag. Hy sal die hoofrede lewer onder vanjaar se tema van eenheid, genesing en nasiebou. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die geleentheid is deel van voortgesette pogings om versoening te bevorder. Suid-Afrikaners word aangemoedig om oor die land se ingewikkelde geskiedenis te besin terwyl insluiting en ‘n gedeelde toekoms bevorder word:
# Die hoof van die Nasionale Direktoraat van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, het ontwrigting veroorsaak by die Nkabinde-ondersoek nadat sy tydens haar getuienis uitgestap het om regsadvies in te win. Batohi was onder kruisondervraging toe sy geweier het om voort te gaan en gesê haar besluit is gebaseer op persoonlike integriteit en regsadvies. Die voorsitter van die ondersoek, regter Bess Nkabinde, het haar optrede as oneerbiedig beskryf. Batohi het aangedui dat sy eers volgende jaar sal terugkeer om haar getuienis voort te sit:
# Die Wes-Kaapse regering het verkeersmaatreëls vir die feestyd verskerp. Verlede week is 119 mense in hegtenis geneem, onder andere 81 vir dronkbestuur, terwyl 14 voetgangers op die paaie gesterf het. Verkeersbeamptes het meer as 44-duisend voertuie voorgekeer en nagenoeg seweduisend boetes uitgereik. Die LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, moedig bestuurders aan om spoedbeperkings te gehoorsaam, alkohol te vermy en veilig te bestuur, en vra dat voetgangers sigbaar en nugter bly:
# Owerhede in Gaza het Maandag gewaarsku dat nog beskadigde geboue moontlik kan ineenstort weens swaar reën in die verwoeste Palestynse gebied. Die weer maak dit blykbaar moeilik om liggame te herwin wat steeds onder die puin begrawe is. Twee geboue het Vrydag in Gaza ineengestort en minstens 12 mense is dood te midde van ‘n storm wat ook tente weggespoel en oorstroom het, en gelei het tot sterftes weens blootstelling. Die woordvoerder vir die Gaza Burgerlike Verdediging, Mahmoud Basal, het die internasionale gemeenskap versoek om mobiele huise en woonwaens vir ontheemde Palestyne te verskaf in plaas van tente.
# En krieket: Die Proteas se mans- en vrouespanne speel albei hierdie week toetse, maar die scenario’s verskil. Die vroue kan vandag die eendagreeks teen Ierland in Gqeberha beklink nadat hulle Saterdag die eerste ontmoeting in Oos-Londen gewen het. Die laaste wedstryd vind Vrydag in Johannesburg plaas. Die mans loop 2-1 agter teen Indië in die T20-reeks van vyf wedstryde met die voorlaaste wedstryd môre in Lucknow. Die Suid-Afrikaners het die tweede wedstryd gewen, maar die eerste en die derde verloor. Die laaste wedstryd vind Vrydag in Ahmedabad plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….