Nuus 06:00
BULLETIN 15 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Kanada waarsku reisigers om versigtig te wees in Suid-Afrika
# Die Padongelukkefonds mors miljoene in ’n twyfelagtige oproepsentrumooreenkoms
# En minstens 15 is dood in ‘n Australiese Joodse slagting
# Kanada het ‘n reiswaarskuwing uitgereik aan sy burgers wat Suid-Afrika besoek om weens die geweldsmisdade baie versigtig te wees. Die waarskuwing verwys na voorbeelde van gewapende roof, voertuigkaping, ontvoering, aanranding en diefstal wat oorsese besoekers raak. Toeriste word aangeraai om seker te maak hulle is veilig, afgesonderde gebiede te vermy, oplettend te wees na donker, veilige huisvesting te gebruik en inskiklik te wees as misdadigers hulle konfronteer. Die waarskuwing volg na soortgelykes deur Amerika en China.
# Die politieke ontleder, Mazwe Majola, sê die alliansie tussen die ANC en die SAKP nader ‘n breekpunt. Die SAKP het besluit om in die toekoms onafhanklik aan verkiesings deel te neem. Dit sluit die 2026 plaaslike regeringverkiesing in. Die president van die ANC Cyril Ramaphosa het SAKP-lede gevra om hulself aan ANC-strategievergaderings te onttrek tot en met ‘n alliansievergadering volgende jaar. Madala Masuku van die SAKP glo die samesprekings sal misluk en die einde van die alliansie beteken.
# Die Padongelukfonds is in die spervuur na die vervanging van sy interne oproepsentrum, wat sowat 25-miljoen-rand per jaar gekos het, met ‘n uitkontrakteerde verskaffer teen byna 199-miljoen-rand oor 13 maande. Die kontrak is na bewering toegeken sonder ‘n behoorlike tenderproses, wat vrae laat ontstaan oor wanadministrasie en bestuur by die Fonds. Bewerings van onreëlmatige verkryging en twyfelagtige motiverings is gemaak, met ‘n verklikker wat prestasie-eise betwis. Die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge ondersoek die saak.
# Die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, sê die ineenstorting van die Verulam-tempel in Durban is ‘n ramp wat moontlik verband hou met tegniese probleme of nie-nakoming tydens konstruksie. Vyf liggame is tot dusver gevind. Ntuli het die noodsaaklikheid beklemtoon dat munisipaliteite onwettige konstruksies moet identifiseer. Hy het ‘n beroep gedoen op samewerking tussen nasionale en provinsiale Openbare Werke, plaaslike regering en ander departemente om bouveiligheid te verseker te midde van klimaatsveranderingsrisiko’s wat konstruksiemateriaal beïnvloed:
# Ten minste 15 mense is gister dood in ‘n skietery tydens die Joodse gemeenskap se feesviering op Australië se Bondi-strand in Sydney. Die aanval, wat as ‘n terroriste-daad bestempel is, het plaasgevind terwyl mense die eerste dag van Hanukkah, ‘n Joodse vakansiedag, gevier het. Veertig mense, insluitend ‘n kind, is gewond. Een verdagte is dood, terwyl die ander in ‘n kritieke toestand in die hospitaal is. Die eerste minister Anthony Albanese het die aanval beskryf as ‘n daad van boosheid, antisemitisme en terrorisme:
# Gholf: Jayden Schaper van Suid-Afrika het met ‘n arend in ‘n uitspeelwedstryd geslaag om sy landgenoot en verdedigende kampioen Shaun Norris te verslaan en die Alfred Dunhill-kampioenskap te wen. Die paar was gelykop op 16 onder nadat die toernooi tot 54 putjies verminder is, maar dit was Schaper wat ‘n eerste DP World-toer-oorwinning in die eerste uitspeelputjie behaal het. Die Spanjaard Eugenio Chacarra was derde. Schaper sê die oorwinning was spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-890-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-306-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….