Oggend-koerantverslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Desember 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Buti Manamela, het die registrasie van Damelin, City Varsity en ICESA City Campus opgeskort. Dit volg nadat die privaat hoër onderwysinstellings vir maande reeds ernstige probleme ondervind.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig AfriForum beweer joernaliste word glo deur die regering betaal om die organisasie se naam te beswadder.
Dan skryf die webblad die DA het bewerings ontken dat lede en skenkers van die party van John Steenhuisen as partyleier wil ontslae raak.
En laastens word berig die aantal gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat en Limpopo het verder gestyg.
GAUTENG:
# Sowetan:
Het sy deure gesluit vir 2025 en sal weer 7 Januarie 2026 beskikbaar wees.
# En The Citizen:
Skryf die Regterlike Dienskommissie veg ‘n opdraende stryd om al die klagtes teen regters te ondersoek. Daar is 176 sake waarin nog nie ‘n beslissing gemaak is nie en intussen word die vertroue in howe ondergrawe.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig daar het die afgelope naweek verskeie noodlottige ongelukke op Wes-Kaapse paaie voorgekom. In een van die ongelukke is ‘n 20-jarige Leap-beampte, Lyle Thomas, in Jakes Gerwel-rylaan doodgery. Gedurende die eerste 11 dae van Desember het 28 mense reeds op die provinsie se paaie omgekom.
En tweedens skryf die koerant oor die muur van 180-miljoen-rand wat die Kaapstadse munisipaliteit by die lughawe wil bou om besoekers te beveilig.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die voormalige bestuurshoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bokskommissie, advokaat Mava Malla, gaan moontlik van diefstal van meer as 19-duisend-rand aangekla word nadat ‘n kliënt se geld verdwyn het.
En tweedens skryf die koerant die Nelson Mandelabaai-metro bevraagteken ‘n verslag dat die water by die stad se vernaamste swemstrande besoedel is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf vandag is ‘n beslissende dag vir die premier van KwaZulu-Natal, Thamsanqa Ntuli en die toekoms van die regering van provinsiale eenheid.
En berig tweedens daar is die afgelope naweek meer as honderd dronkbestuurders in Estcourt, uMhlanga Rocks en Empangeni in hegtenis geneem.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig boere in die Namib-Naukluft en sentrale streke sê hulle verloor die stryd teen georganiseerde stroperysindikate. Die redes sluit in swak ondersoeke, lae boetes en herhaalde borgtog vir verdagtes.
En tweedens skryf die koerant nuwe forensiese bevindinge oor die onlangse noodlottige messtekery in Rehoboth het talle vrae laat ontstaan. Dit lyk nou of die slagoffer, die 26-jarige George Haubab, self die wonde toegedien het.