Nuus 09:00
BULLETIN 13 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Basiese Onderwys verwelkom die hofuitspraak om die matriekuitslae te publiseer
# Donald Trump verskyn in nuut vrygestelde foto’s op Jeffrey Epstein se landgoed
# En krieket: Die Protea-vroue en Ierland pak mekaar in die eerste eendagwedstryd in Oos-Londen
# Die Departement van Basiese Onderwys het die uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria verwelkom wat sy wetlike gesag bevestig om die uitslae van die Nasionale Senior Sertifikaat in koerante en geakkrediteerde mediaplatforms te publiseer. Die uitspraak stel dit duidelik dat hierdie gevestigde praktyk nie die verwerking van persoonlike inligting onder die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting verteenwoordig nie. Terence Khala van die departement sê die uitspraak herstel sekerheid vir leerders en gesinne:
Die Inligtingsreguleerder is intussen teleurgesteld oor die hofuitspraak en die tersydestelling van sy boete van vyf-miljoen-rand teen die Departement van Basiese Onderwys. Die kennisgewing is in 2024 uitgereik oor die departement se versuim om te voldoen aan riglyne oor die publikasie van matriekuitslae. Die Reguleerder sal die uitspraak bestudeer om die volgende stappe te bepaal en het die belangrikheid van die beskerming van persoonlike inligting beklemtoon.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sal vanmiddag die bouterrein besoek waar ‘n vierverdieping-gebou in Redcliffe, noord van Durban, ineengestort het. Die Nuwe Ahobilam Tempel van Beskerming in Verulam het gedeeltelik ineengestort, met twee mense dood en drie ander nog vasgekeer. Die woordvoerder van Openbare Werke en Infrastruktuur, James de Villiers, sê Macpherson sal oor die voorval ingelig word en deur senior amptenare vergesel word:
# Demokrate in die Kongres het gister 19 nuwe foto’s van die landgoed van die oorlede veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein vrygestel, insluitend drie foto’s van president Donald Trump. Trump het Vrydag aan verslaggewers by die Withuis gesê dis geen groot probleem nie, aangesien Epstein oral in Palm Beach was. Die Epstein-skandaal is al maande lank ‘n politieke hoofpyn vir Trump, deels omdat hy samesweringsteorieë oor Epstein aan sy eie ondersteuners oordryf het. Baie Trump-kiesers glo amptenare van die Trump-administrasie het Epstein se bande met magtige figure toegesmeer en besonderhede rondom sy dood verberg.
# Krieket: Die eendagreeks van drie wedstryde tussen Suid-Afrika en Ierland se vroue begin vanoggend in Oos-Londen. Dit volg na die Proteas se skoonskipoorwinning in die T20-wedstryde, toe hulle die eerste twee ontmoetings in Kaapstad en die Paarl gewen het voordat die laaste een in Benoni uitgereën het. Vandag se wedstryd is Suid-Afrika se eerste in hierdie formaat sedert hulle teen Indië in die eindstryd van die Wêreldbeker verloor het. Die tweede eendagwedstryd word Dinsdag in Gqeberha gespeel en die laaste een Vrydag in Johannesburg.
# En tens slotte: Die Tygerberg-hospitaal in die Wes-Kaap het geskiedenis gemaak deur Suid-Afrika se eerste volledig interne ledemaatrekonstruksie uit te voer, ‘n ernstige beendefek te herstel en ‘n verskil in beenlengte reg te stel sonder om eksterne rame te gebruik. Die 64-jarige pasiënt, ‘n voormalige polisiebeampte, is in 2018 geskiet en het met chroniese pyn en bewegingsprobleme saamgeleef. Nando Ferreira van die hospitaal sê die gevorderde prosedure laat die pasiënt meer gemaklik, verminder komplikasies en maak hersteltyd korter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….