Nuus 13:00
BULLETIN 12 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof verwerp die NVG se aansoek om verlof tot appèl teen Omotoso se onskuldigbevinding
# Die Padongelukkefonds stel Radikwena Phora as waarnemende hoof aan te midde van woelinge
# En Olimpiese Spele: Die IOK wil hê Rusland en Belarus se jong atlete moet weer aan internasionale byeenkomste kan deelneem
# Die Hooggeregshof in Gqeberha het die Nasionale Vervolgingsgesag verlof geweier om te appelleer teen die onskuldigbevinding van die Nigeriese tele-evangelis, Timothy Omotoso, en sy medebeskuldigdes, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho. Die NVG het duidelikheid gevra oor ses regskwessies, insluitend hoe die verhoorhof bewyse en feitelike bevindings hanteer het. Regter Irma Schoeman het in April beslis die staat kon nie daarin slaag om sy saak bo redelike twyfel te bewys nie. Die drie is vrygespreek op verskeie aanklagte, insluitend van verkragting, mensehandel en afpersing. Omotoso het Suid-Afrika sedertdien verlaat.
# Die Padongelukkefonds het die hoof interne ouditbeampte, Radikwena Phora, as sy waarnemende uitvoerende hoof aangestel – die vierde leier binne sewe maande. Moneyweb berig dit volg op Victor Songelwa se bedanking, Collins Letsoalo wat weg is, en die skorsing van die waarnemende uitvoerende hoof, Phathutshedzo Lukhwareni. Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge beplan om die speaker, Thoko Didiza, se goedkeuring te vra om misdaadklagtes teen Letsoalo aanhangig te maak. Letsoalo en Lukhwareni word by wanbestuur en wanadministrasie betrek. Die fonds sê Phora is aangestel om die beleërde fonds te bestendig.
# Die Kaapse Onafhanklikheidsparty eis dringende stappe om die toenemende geweld te beëindig op die N2, die R300, Jakes Gerwel-rylaan en omliggende roetes wat na die Kaapstadse Internasionale Lughawe lei. In die jongste voorval is ‘n 64-jarige vrou van Nelspruit, Karin van Aardt, verlede week doodgesteek in ‘n grypdiefstal op pad na Vredenburg. Lara Sonnenberg van die party sê dringende noodveiligheidsmaatreëls is nodig:
# Die Vereniging vir Staatsamptenare verwelkom die Departement van Binnelandse Sake se besluit om sy kantore langer oop te hou oor die feestyd. Woordvoerder Claude Naickers sê dit sal oor die besigste tye druk verlig deur mense te help om noodsaaklike dokumente te bekom. Hy sê beter toegang sal lang toue en agterstande verminder, terwyl personeel die plan ondersteun deur onder regverdige en veilige toestande bykomende ure te werk:
# Olimpiese Spele: Die uitvoerende raad van die Internasionale Olimpiese Komitee het aanbeveel dat jeugatlete van Rusland en Belarus nie meer verbied moet word om aan internasionale jeugkompetisies deel te neem nie. Dit geld vir individuele en spansporte. Die IOK het die lande verban na Rusland se inval in Oekraïne in Februarie 2022. Die IOK sê atlete, en in die besonder jeugatlete, moet nie aanspreeklik gehou word vir hul regerings se optrede nie. Die aanbeveling kan waarskynlik ingestel word voor volgende jaar se Jeug-Olimpiese Spele in Dakar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-83-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-343-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-314-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….