Nuus 14:00
BULLETIN 12 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof verwerp die NVG se aansoek om verlof tot appèl teen Omotoso se onskuldigbevinding
# ACSA bereik tien van sy elf sleutelprestasie-aanwysers vir die 2024/25-boekjaar
# En sokker: ‘n Ondersteunersgroep vra FIFA om kaartjiepryse vir die Wêreldbekertoernooi te verlaag
# Die Hooggeregshof in Gqeberha het die Nasionale Vervolgingsgesag verlof geweier om te appelleer teen die onskuldigbevinding van die Nigeriese tele-evangelis, Timothy Omotoso, en sy medebeskuldigdes, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho. Die NVG het duidelikheid gevra oor ses regskwessies, insluitend hoe die verhoorhof bewyse en feitelike bevindings hanteer het. Regter Irma Schoeman het in April beslis die staat kon nie daarin slaag om sy saak bo redelike twyfel te bewys nie. Die drie is vrygespreek op verskeie aanklagte, insluitend verkragting, mensehandel en afpersing. Omotoso het Suid-Afrika sedertdien verlaat.
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika het tien van sy elf sleutelprestasie-aanwysers vir die 2024/25-boekjaar bereik. Uitvoerende hoof Mpumi Mpofu sê finansiële volhoubaarheid is steeds sterk, met verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en skuld-delging wat 2,8-miljard-rand bereik het teenoor die teiken van 2,6-miljard-rand. Lugvaartinkomste het sy teiken misgeloop weens internasionale ontwrigtings. Mpofu sê ook byna 24-duisend werksgeleenthede is geskep en daar was verbeterde passasierstevredenheid en handhawing van sterk hervorming- en omgewingsprestasie:
# Williston in die Boesmanland-streek van die Noord-Kaap worstel steeds met ‘n erge droogte, terwyl swaar reën oor ander dele van Suid-Afrika geval het. AfriForum en Saai het 12-ton voer aangekoop om die boere te help. Tarien Cook van AfriForum bepleit regeringsingryping en openbare steun, en waarsku plase, gemeenskappe, skole en inkomste kan sonder noodhulp in ‘n ernstige maatskaplik-ekonomiese krisis gedompel word:
# Sokker: ‘n Europese ondersteunersgroep vra FIFA om kaartjieverkope vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi onmiddellik te staak omdat pryse buitensporig hoog is. Hy sê indien ‘n ondersteuner sy span dwarsdeur die toernooi volg deur ʼn deelnemende vereniging se toewysing, kos dit byna vyf keer meer as tydens 2022 se toernooi in Katar. Die groep sê FIFA moet kaartjiepryse hersien en ʼn oplossing vind wat die kulturele betekenis van die toernooi weerspieël.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-466-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-321-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-96-sent per vat.
# En ten slotte: Die Tafelbergse Sweefspoormaatskappy berei hom voor vir een van sy besigste feestye met plaaslike en buitelandse besoekers wat na Kaapstad stroom. Toerismesyfers wat verlede maand uitgereik is, toon ‘n hoë vraag na toergidse in die stad. Wahida Parker van die maatskappy vra besoekers om die webwerf te raadpleeg vir wenke om ‘n gladde en onvergeetlike ervaring te verseker te midde van besige paaie en groot toestromings by besienswaardighede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….