Nuus 06:00
BULLETIN 12 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika word met die verlenging van AGOA nie uitgesluit nie
# Die EFF doen ‘n beroep op ‘n boikot van die G20-beraad indien Suid-Afrika uitgesluit word
# En Olimpiese Spele: Australië stel ‘n fonds van 564-miljoen-rand bekend om atlete vir die 2032-Spele voor te berei
# Die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika sal met ‘n verdere drie jaar verleng word. Dit volg nadat die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se Komitee vir Uitwegte en Middele die Agoa-uitbreidingswet aangeneem het, wat die handelsinisiatief tot 31 Desember 2028 verleng. Agoa gee belastingvrye toegang tot die Amerikaanse mark vir kwalifiserende Afrikalande, sonder wederkerige toegang tot hul markte. Die komitee, wat Agoa as die hoeksteen van ekonomiese betrekkinge tussen die VSA en Afrika suid van die Sahara beskryf, het Suid-Afrika nie uitgesluit nie.
# Die EFF sê enige poging om die deelname van Suid-Afrika by die komende G20-beraad in die VSA te verhoed, sal ‘n aanval op die land se aansien en ‘n belediging vir sy rol in globale aangeleenthede wees. Die party voer aan dat Suid-Afrika ‘n belangrike stem vir ontwikkelende lande is en nooit in groot internasionale forums opsy gestoot moet word nie. Die leier van die EFF, Julius Malema het aan die media gesê president Donald Trump is ‘n globale bedreiging:
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, het die finale bewoording van die verwysingsraamwerk vir die wangedragsaak teen Andrew Chauke verduidelik. Advokaat Tembeka Ngcukaitobi het tydens kruisondervraging aan Batohi gesê haar beëdigde verklaring en antwoorde op die Nkabinde-ondersoek is misleidend. Batohi het verduidelik die aanklag vereis ‘n handtekening op saakdossiere of vervolgingsmemorandums en nie op aanklagte soos voorheen aangedui is nie:
# Die Gautengse Departement van Onderwys sê alle nasien-, verifikasie- en sekuriteitsprotokolle word steeds toegepas om ‘n geloofwaardige, billike en betroubare Nasionale Senior Sertifikaat-uitslag te verseker. Dit volg op die opsporing van ‘n lekkasie van eksamenvraestelle in Pretoria, waarby 26 leerders van sewe skole betrokke was. Twee amptenare van die Departement van Basiese Onderwys is geskors. Gautengse onderwyswoordvoerder, Steve Mabona, sê hulle verleen erkenning aan die matriekkandidate wat die NSS-belofte nagekom het:
# Die hoof van NAVO, Mark Rutte, het lidlande gewaarsku hulle is Rusland se volgende teiken. Rutte het tydens ‘n tydens ‘n veiligheidskonferensie in Berlyn gesê die blok moet alles in sy vermoë doen om ‘n oorlog te voorkom wat op die skaal kan wees wat die huidige generasie se grootouers en oupagrootjies verduur het. Hy meen te veel NAVO-bondgenote besef nie die dringendheid van Rusland se bedreiging in Europa nie. Rutte waarsku die lande hulle moet verdedigingsbesteding en -produksie vinnig verhoog om te verhoed dat so ‘n oorlog plaasvind.
# Olimpiese Spele: Australië het ‘n fonds van 564-miljoen-rand vir atlete bekendgestel voor 2032 se Spele in Brisbane. Dit sal uittree-toelaes vir Olimpiese deelnemers insluit, en kontant-toekennings om vroulike atlete te help om na elite-deelname terug te keer na hulle babas gehad het. Die president van die land se Olimpiese Komitee, Ian Chesterman, sê baie atlete het min finansiële steun aan die einde van hulle loopbane en hierdie bydrae sal ‘n verskil maak. Hy sê hoewel Olimpiese atlete dit nie vir geld doen nie, word finansiële opoffering gemaak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-558-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-279-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….