Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Desember 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig een van die kandidate vir die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Hermione Cronje het een van die ander kandidate, Menzi Simelane beskuldig dat hy die oorsaak is van die meeste probleme in die gesag.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Lei met die probleme wat president Cyril Ramaphosa moet oorkom om die ANC te hernu.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ook oor die probleme wat Ramaphosa ondervind. Hy sê die ANC wat sy opvolger in 2027 moet verkies, sal sonder verdagte karakters wees.
Dan skryf die webblad oor die Gautengse eksamenbedrog waarby 26 leerders van sewe skole in Pretoria betrek is. In die stadium is daar geen rede om te vermoed dat die bedrogspul buite Gauteng voorgekom het nie. Die departement stel ondersoek in na die voorval en drie amptenare is geskors.
En laastens is daar nuus oor die Proteas wat die T20-reeks teen Indië gelyk gemaak het op een elk. Daar moet nog drie toetse gespeel word.
GAUTENG:
# Sowetan:
Berig Ramaphosa het ongedeerd uit die ANC se Hoofraadsvergadering gestap nadat daar vroeër bespiegel is hy gaan gevra word om te bedank. Die president het die steun van sy party ontvang.
# En The Citizen:
Skryf die Suid-Afrikaanse regering het Australië se verbod om die jeug op sosiale media te beskerm, verwerp. Daar is egter talle voorvalle in SA van kinders wat selfdood gepleeg het oor kuber-boeliery.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die eksamenbedrog in Gauteng
En tweedens berig die koerant daar is koeler weer op pad vir die Wes-Kaap.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-metro het ou foto’s van die stad se swembaddens uitgegee wat toon alles is in orde terwyl die werklike situasie haglik is.
En tweedens skryf die koerant oor die harde skrumstryd wat vir die Stormers voorlê.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens ook oor die beamptes wat na bewering die matriekvraestelle uitgelek het.
En berig chaos het uitgebreek in die Umvoti-raadsvergadering toe van die lede mekaar te lyf gegaan het en selfs vuurwapens vertoon het. Daar word beweer IVP-lede het die onderonsie begin.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig boeregemeenskappe van Gibeon, Maltahöhe en Mariental staan die borgtog van twee mans teen wat by een van die Hardapstreek se grootste veediefstalsake in onlangse jare betrek word.
Dan skryf die koerant die San betreur gedwonge verskuiwings en volgehoue geslagsgeweld.
En laastens is daar ‘n berig oor nog donderbuie wat vandag oor die noordelike en sentrale streke verwag word.