Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die graderingsagentskap Fitch het kennis geneem van die Suid-Afrikaanse regering se reddingsboei van 50-miljard-rand aan Transnet oor die volgende twee boekjare. Dit sal meebring dat staatskuld skerper styg as projeksies, maar die agentskap het aangedui dat hy nie binnekort die land se gradering van BB-minus sal aanpas nie.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die oorwinning van Dricus du Plessis oor Sean Strickland en verowering van die middelgewig United Fighting-kampioenskapstitel. Gelukwensings stroom van oral in.
En tweedens berig die koerant verskeie opposisiepartye het president Cyril Ramaphosa en adjunkpresident Paul Mashatile gewaarsku om nie lugmagvlugte vir ANC-bedrywighede te misbruik nie.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die grootkoppe van die ANC in KwaZulu-Natal sê oudpresident Jacob Zuma hou nie ‘n gevaar in nie.
En berig Johannesburg is nie ‘n skaduwee van die stad wat dit was nie.
# Sowetan:
Berig die Johannesburgse sakekern is ‘n brandgevaar met talle geboue wat nie aan brandregulasies voldoen nie.
# En The Citizen:
Skryf die inwoners van Birchleigh in Kemptonpark het talle vrae oor ‘n skool in die gebied wat oornag in Wendy-huise opgerig is sonder enige toiletgeriewe. Die Gautengse regering sê egter die skool is wettig.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met Dricus se oorwinning.
Dan word berig drie kinders het die naweek in twee afsonderlike voorvalle in Bloemfontein en in Steinkopf in die Noord-Kaap verdrink.
En laastens skryf die koerant die Vrystaat het nie net die hoogste matriekslaagsyfer aangeteken nie, die meeste leerders wat 100-persent vir vakke ontvang het, kom ook uit die provinsie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens die Villagers Newton-rugbyklub in die Paarl se Speler van die Jaar, die 22-jarige Trevino Maarman het in die Bergrivier verdrink.
Dan skryf die koerant ook oor Dricus.
En laastens word berig twee o.15-krieketspelers van die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes, Luke Engelbrecht en Jonathan Roos het die rekordboeke herskryf toe hulle ‘n vennootskap van 406 lopies behaal het.
# En Cape Times:
Skryf die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala wat uit KwaZulu-Natal afkomstig is, sê die ANC is nie bang vir Zuma se nuwe party nie.
En tweedens berig die koerant ook oor Dricus du Plessis wat sy pad na die wêreldtitel met sy vuiste oopbaklei het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n voormalige burgemeester van Nelson Mandelabaai, Nqaba Bhanga het aangesluit by die betogings teen Israel. Hy het die strate en winkelsentrums ingevaar met ‘n Palestynse vlag en ‘n plakkaat.
En tweedens skryf die koerant meer as ‘n halfmiljoen mense het Nelson Mandelabaai in Desember besoek en meer as 500-miljoen-rand bestee. Dit is volgens ‘n munisipale verslag baie beter as 2022.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ‘n verpleegster en haar neef wat aangekla word van die moord op haar man sal na verwagting vandag hul lot verneem in die plaaslike Hooggeregshof.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig namate skepe wat vir Asiatiese markte bestem is, toenemend die Kaap die Goeie Hoop-roete kies om die konflik in die Rooisee te vermy, verkies hulle om eerder in Walvisbaai aan te doen as in Kaapstad.
En tweedens skryf die koerant daar is ontginningslisensies vir uraan uitgereik vir ‘n gebied wat 3,3-miljoen hektaar by Stampriet beslaan. Dit hou volgens kenners ‘n gevaar in vir drinkwater.