Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Desember 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Eskom het ‘n reddingsboei aangebied vir ferrochroomprodusente en ‘n memorandum van ooreenkoms onderteken met Glencore en Samancor.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig oor die deurbraak in die Van der Merwe-sluipmoordondersoek. Die webblad skryf die polisie het in die Alexandra-township beslag gelê op die wit Chevrolet-bakkie wat in die moord op die Madlanga-getuie Marius van der Merwe gebruik is.
Dan skryf die webblad ‘n omroeper van SAFM, die 39-jarige Nonkululeko Mantula is volgens die staat die baasbrein agter die werwing van huursoldate vir Rusland.
En laastens is daar nuus oor die Golden Globes waar Paul Thomas Anderson se One battle after another die beste vaar met benoemings.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die voorlopige deurbraak in die Marius van der Merwe-moordsaak.
# Sowetan:
Berig oor ‘n voormalige prokureur, Imolda Manamela, wat gister in die hof verskyn het nadat sy na bewering voornemende huiskopers uit miljoene rand bedrieg het. Daar is glo sowat 29 sake teen haar.
# En The Citizen:
Skryf president Cyril Ramaphosa het toegegee die MK-party het die ANC seergemaak, maar daar was ook bydraende faktore soos korrupsie en swak dienslewering.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor Ramaphosa se openingstoespraak by die ANC se Nasionale Raadsvergadering in Boksburg. Die koerant skryf Ramaphosa het erken die ANC staan by ‘n kruispad en hy het korrupsie in en swak dienslewering deur die party ernstig aangespreek. Ramaphosa het gesê indien die ANC nie nou aanpas nie, gaan die party sterf.
En tweedens is daar nuus oor ‘n baanbreker-operasie wat uitgevoer is om ‘n man se ledemaat te vervang.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit borg steeds geleenthede ten spyte van ‘n skrywe van die Tesourie teen sulke borgskappe.
En skryf tweedens ‘n vrou van Gqeberha wat ‘n klein hondjie met ‘n stok doodgeslaan het is tot korrektiewe toesig gevonnis.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor ‘n seuntjie van KwaZulu-Natal wat weer kan glimlag na ‘n suksesvolle gesigoperasie, en berig oor ‘n kontantinspuiting vir die Durban July-perderesies.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die goedgekeurde gratis tersiêre onderwysprogram wat volgende jaar begin, sal verseker dat net die finansieel kwesbaarste studente hulp ontvang.
En tweedens skryf die koerant selfbestuur-reisigers sal vanaf 15 Desember toegang tot die gedeelte vir viertrekvoertuie in die Sossusvlei-konsessiegebied verbied word.