Nuus 06:00
BULLETIN 9 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa waarsku wit oppergesag bedreig Suid-Afrika se eenheid en soewereiniteit
# Drie persone wat moontlik betrokke was, is geïdentifiseer in die moordsaak van Marius van der Merwe
# En die Nigeriese regering red 100 skoolkinders wat uit ‘n Katolieke skool ontvoer is
# President Cyril Ramaphosa sê idees van wit oppergesag en valse bewerings van wit vervolging hou ‘n bedreiging in vir Suid-Afrika se eenheid, soewereiniteit en internasionale betrekkinge. Ramaphosa het tydens die ANC-konferensie in Boksburg, Ekurhuleni, ‘n beroep gedoen op wêreldwye pogings om hierdie mites om te keer. Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika, te midde van onderhandelings met die VSA oor handel, ook sy uitvoermarkte diversifiseer:
# Die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola sê hulle het drie persone geïdentifiseer wat moontlik betrek kan word by die moordondersoek van Marius van der Merwe. Een persoon word aangehou vir ondervraging. Van der Merwe, wat voor die Madlanga-kommissie getuig het, is Vrydag buite sy huis in Brakpan, Gauteng, doodgeskiet. Masemola sê daar is ‘n gekoördineerde poging om die veiligheid van ander getuies te verseker:
# Die hoof van die Nasionale Direktoraat van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, het erken sy het geen dokumentêre bewyse om bewerings te ondersteun dat die geskorste Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, verkeerd opgetree het in die Cato Manor-afpersingsaak nie. Tydens ‘n gespanne kruisondervraging by die Nkabinde-ondersoek het Chauke se prokureur, Tembeka Ngcukaitobi, Batohi uitgedaag oor die gebrek aan bewyse vir haar bewerings. Sy het gesê haar gevolgtrekkings is gebaseer op konteks, interne verslae en haar interpretasie van vergaderings:
# ‘n Verslag deur die Wêreldreis- en Toerismeraad, asook die internasionale IT-lugvervoersektormaatskappy, SITA, het lande aangespoor om digitale visumbeleide en grenstegnologieë te aanvaar om naatlose, veilige reise te verseker. Voorspellings toon dat lugvaart teen 2035, 14-miljard passasiers sal vervoer, met reise wat 11,5-persent tot die globale bruto binnelandse produk sal bydra. Die maatskappye verklaar dat die implementering van die verslag se aanbevelings 14-miljoen-werksgeleenthede kan skep en ses-duisend-miljard-rand tot die globale BBP kan voeg, terwyl doeltreffendheid verbeter en opeenhoping by grenspunte verminder word.
# Die Nigeriese regering het 100 skoolkinders gered wat verlede maand uit die St. Mary’s Katolieke Skool in sentraal-Nigerië ontvoer is. Volgens ‘n woordvoerder van die Christelike Vereniging van Nigerië is die redding Maandagoggend deur regeringsamptenare bevestig, maar geen openbare kommentaar is gelewer nie. Meer as 300 kinders en 12 personeellede is op 21 November deur gewapende mans by die skool in Papiri ontvoer. Vyftig leerlinge het daarin geslaag om te ontsnap, maar daar was tot nou toe geen nuus oor die ander kinders en die vermiste personeellede nie.
# Krieket: Shubman Gill en Hardik Pandya kan oorweeg word vir vandag se eerste T20 teen Suid-Afrika in Cuttack. Gill is in die eerste toets teen Suid-Afrika beseer en het die tweede, asook die drie eendagwedstryde, misgeloop. Pandya het in September laas vir Indië in die Asië-beker gespeel toe hy ‘n besering opgedoen het. Die Proteas het die toetsreeks met 2-0 gewen, terwyl die gashere die eendagreeks met 2-1 gewen het. Die tweede T20 word Donderdag in New Chandigarh gespeel, gevolg deur kragmetings in Dharamsala, Lucknow en Ahmedabad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-723-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-192-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….