Nuus 08:00
BULLETIN 6 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie is op soek na die huurmoordenaars wat die Madlanga-kommissie se getuie D in Brakpan vermoor het
# Die NSRI waarsku die publiek om versigtig te wees tydens ‘n volmaan-springgety
# En krieket: Die eendagreeks tussen die Proteas en Indië word vandag beslis
# Die polisie het ‘n soektog op tou gesit na huurmoordenaars wat “Getuie D” van die Madlanga-kommissie gisteraand in Brakpan, Ekurhuleni, doodgeskiet het. Getuie D het in November voor die kommissie getuig dat die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisiedepartement, Julius Mkhwanazi, by die oënskynlike toesmeer van ‘n moord betrokke is. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê Getuie D het net na half-nege saam met sy vrou by sy huis aangekom is in sy bolyf geskiet toe hy die hek wou oopmaak. Sy vrou, wat ‘n passasier in die motor was, is ongedeerd:
Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, gaan intussen vandag Regter Mbuyiseli Madlanga inlig oor die ondersoek na die oënskynlike sluipmoord op Getuie D. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê Masemola sal pogings bespreek om veiligheidsmaatreëls vir alle rolspelers by die Madlanga-kommissie te verbeter:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het drie eiendomme gevries wat verbind is aan ‘n saak van bedrog met persoonlike beskermingstoerusting in die Noord-Kaap. Die Covid-19-toerusting het ‘n waarde van 27-miljoen-rand. Die eiendomme, ter waarde van ongeveer 8,4-miljoen-rand, is deel van ‘n siviele geding om openbare fondse te verhaal wat onwettig aan Macronym 37 betaal is. Volgens die Ondersoekeenheid het die maatskappy opgeblase bestellings voorsien, rekeninge vervals en belastingreëls geïgnoreer. Twee voormalige amptenare van die Departement van Gesondheid, Daniel Gaborone en Dion Theys, staan tereg op aanklagte van bedrog.
# Die Nasionale Seereddingsinstituut doen ‘n beroep op strand- en kusbesoekers om hierdie naweek besonder versigtig te wees wanneer die volmaan-springgety sy hoogtepunt bereik. Hoër hoogwater en sterker strome verhoog die risiko’s vir swemmers, stappers, hengelaars en bootvaarders. Andrew Ingram van die instituut beveel aan dat mense swem by strande wat deur lewensredders beskerm word, oplet vir strome, reddingsbaadjies dra, kinders onder toesig hou en selfone gelaai en in waterdigte sakkies dra:
# Die Sweedse regering het gister veranderinge aan die grondwet voorgestel waarvolgens burgerskap van bendeleiers herroep kan word as deel van hul pogings om wydverspreide georganiseerde misdaad te bestry. Die minister van Justisie, Gunnar Strommer, sê die voorgestelde wetsontwerp, sluit ‘n voorstel in wat die herroeping toelaat van paspoorte van dubbele burgerskaphouers wat skuldig bevind is aan misdade soos ernstige bendemisdaad. Die regering het in die 2022-verkiesing belowe om immigrasie en bendemisdaad, wat volgens hulle met mekaar verband hou, te verminder. ‘n Algemene verkiesing word in 2026 gehou.
# En krieket: Die eendagreeks tussen Suid-Afrika en Indië word vandag beslis in die derde en laaste ontmoeting tussen die twee spanne in Visakhapatnam. Die gashere het die eerste wedstryd in Ranchi met 17 lopies gewen. Die Proteas het teruggeveg met ‘n oorwinning met vier paaltjies in die tweede toets in Raipur. Hulle die reuse-teiken van 359 bereik nadat Aiden Markram 110 lopies van slegs 98 balle aangeteken het. Die toer word afgesluit met die twee lande wat van Dinsdag af in drie T20-wedstryde speel, nadat Suid-Afrika die toetsreeks met 2-0 gewen het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….