Nuus 17:00
BULLETIN 5 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie ondersoek teenstrydige opdragte oor die herintegrasie van die taakspan
# Die adjunkminister van Indiensneming en Arbeid sê sakeondernemings kom nie landswette na nie
# En, daar is drie kandidate op die Parlement se kortlys vir voorsitter van die Nasionale Loterykommissie
# Sesi Baloyi van die Madlanga-kommissie sê die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se wankommunikasie oor die ontbinding van die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde het beamptes se integrasie ontwrig. Baloyi sê Mchunu het beoog dat lede by moord- en roofeenhede sal aansluit, maar die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris Shadrack Sibiya het beamptes opdrag gegee om na hul vorige stasies terug te keer. Mchunu hou vol hy het staatgemaak op verslae wat toon taakspan-lede sou in ernstige en geweldsmisdaadeenhede opgeneem word:
# Die adjunkminister van Indiensneming en Arbeid, Jomo Sibiya, sê die departement moet ‘n lys name van maatskappye van belang opstel om seker te maak hulle kom landswette na. Die departement het ʼn interdepartementele blits-inspeksie in Gauteng uitgevoer. Sowat 138 werkgewers het nakomings- en verbodkennisgewings ontvang by Krunch Limited. Michael Msiza van die departement sê Devland Cash and Carry het nie kontrakte met werkers gesluit nie en buitelanders word minder as die nasionale minimum loon betaal:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging het drie persone aanbeveel as voorsitter van die Nasionale Loterykommissie. Hulle is Tembinkosi Bonakele, Mpho Mosing en Lufono Toyko Nevondwe. Die huidige voorsitter, Barney Pityana, het onlangs bedank, met twee jaar van sy vyfjaartermyn oor. ‘n Verslag sal nou aan die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, gestuur word om voor die Parlement ter tafel gelê en goedgekeur te word. Die name sal daarna aan die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, ingedien word, wat die aanstelling sal bekragtig.
# Die Russiese president, Vladimir Putin, en die Indiese eerste minister, Narendra Modi, het ooreengekom om handel wyer as olie en verdediging uit te brei, ondanks Westerse druk op Indië om sy bande met Moskou te verminder. Indië is die wêreld se grootste koper van Russiese wapens en mariene-olie. Die land het die rooi tapyt uitgerol vir Putin tydens sy tweedaagse staatsbesoek. Modi sê die lande het ooreengekom oor ‘n ekonomiese samewerkingsprogram tot 2030, wat handel en belegging meer uiteenlopend, gebalanseerd en volhoubaar sal maak.
# Krieket: Australië het ‘n voorsprong van 44 lopies in die eerste beurt oor Engeland gehad na die tweede dag van die tweede Toets om die As in Brisbane. Engeland se laaste paaltjie het vanoggend gou geval toe Jofra Archer vir 38 uitgevang is nadat hy en Joe Root die Australiese boulers frustreer het met ‘n vennootskap van 70 lopies om die tiende paaltjie. Root was onoorwonne op 138 met Engeland wat 334 lopies aangeteken het. Australië het bestendige vennootskappe opgebou, insluitend die vierde paaltjie tussen Cameron Green en kaptein Steve Smith van 95 lopies, en het 378 vir ses lopies aan die einde van die dag se spel bereik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-054-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-227-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-06-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….