Nuus 18:00
BULLETIN 5 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa prys die Presidensiële Klimaatkommissie vir die bevordering van Suid-Afrika se rol in wêreldwye klimaatforums
# Die GOOD-party sê die Wes-Kaapse Onderwysdepartement is in ‘n krisis gedompel
# En, die Gautengse LUR vir Vervoer vra vir verantwoordelike padgedrag oor die feestyd
# President Cyril Ramaphosa het die Presidensiële Klimaatkommissie geprys vir die versterking van Suid-Afrika se profiel in wêreldwye klimaatforums. Hy het verwys na die bewysgebaseerde aanbevelings, inklusiewe prosesse en internasionale betrokkenheid. Ramaphosa het tydens die 20ste Gewone Sitting in Pretoria die Kommissie se rol geprys in die bevordering van die Billike Oordrag, gesprekke oor klimaatsbefondsing, en leiding deur die Billike Energie-oordragsplan 2023 tot 2027. Hy het ook Suid-Afrika se verbintenis tot ambisieuse klimaatsoptrede beklemtoon:
# Die GOOD-party sê die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het nie die vermoë om sy begroting en befondsing bestendig te maak vir die vergoeding van werknemers nie. Die LUR vir Finansies, Deidre Baartman, het hierdie week die provinsiale regering se mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring en aanpassingsbegroting gelewer. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê 736,6-miljoen-rand is uit die onderwysbegroting geneem, insluitend 270-miljoen-rand uit skole se infrastruktuur-ontwikkelingsbegroting:
# Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, moedig padgebruikers aan om hierdie feestyd veilige keuses te maak en verantwoordelik te bestuur. Sy en die nasionale minister van Vervoer, Barbara Creecy, het gister die Gautengse feestyd-padveiligheidveldtog in Diepsloot bekendgestel. Die veldtog se tema is E Thoma Ka Wena! Dit begin by jou. Die departement se woordvoerder, Lesiba Mpya, sê hulle rig ‘n streng waarskuwing aan wetsoortreders:
# Gevegte woed voort in die oostelike Demokratiese Republiek die Kongo, ‘n dag nadat die Amerikaanse president Donald Trump, met Kongolese en Rwandese leiers ‘n nuwe vredesooreenkoms in Washington onderteken het om die jarelange konflik in die streek te beëindig. Die Kongolese president, Felix Tshisekedi en Paul Kagame van Rwanda het Donderdag hul verbintenisse herbevestig tot die ooreenkoms wat in Junie bereik is na bemiddeling van die VSA. Die ooreenkoms wil die mineraalryke land stabiliseer en die weg baan vir meer Westerse mynboubeleggings. ‘n Woordvoerder van die Kongolese leër sê hewige gevegte duur egter voort met Rwandese magte wat steeds bomaanvalle uitvoer.
# Die Stormers skop vanaand hul Kampioenebekerveldtog af met ‘n moelilke taak teen Bayonne van Frankryk. Die Stormers is die die onoorwonne voorloper in die Verenigde Rugbykampioenskap en kom te staan teen die Top 14-span wat tot dusver hierdie seisoen ‘n foutlose tuisrekord handhaaf. Die afrigter, John Dobson het sy span aangepas, onder andere ‘n debuutverskyning vir die stut Ntuthuko Mchunu. Die Kapenaars soek ‘n belangrike wegoorwinning om voor te bly in die mededingende Groep 3, met strawwe mededingend wat in die lynstane verwag word. Die afskop is vanaand om 10-uur, Suid-Afrikaanse tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-726-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-237-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….