Nuus 14:00
BULLETIN 5 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vrystaatse Hooggeregshof hoor betoë aan oor die gereedheid vir Thabo Bester se ontsnappingsverhoor
# Die Hooggeregshof in Pretoria verslap die borgtog-voorwaardes vir die hoof van Misdaad-intelligensie
# En motorsport: Toyota Gazoo Racing word die amptelike borg van Haas se F1-span
# Die Hooggeregshof in die Vrystaat hoor betoë aan oor die gereedheid vir die ontsnappingsverhoor van Thabo Bester en sy medebeskuldigde. Die saak het in September vasgeval toe Bester die vierde keer van regspan verander het. Sy medebeskuldigde, Nandipha Magudumana, het ook die Konstitusionele Hof genader oor haar uitlewering uit Arusha in Tanzanië. Hulle is op 8 April 2023 in hegtenis geneem nadat hulle uit die land gevlug het. Aanklaers het die Hooggeregshof gevra om aandag te skenk aan die vertragings wat deur Magudumana se appèlaansoek veroorsaak is.
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die borgtog-voorwaardes vir die hoof van Misdaad-intelligensie, Dumisani Khumalo, en sy ses medebeskuldigdes verslap en hulle het nou toegang tot intelligensie-persele. Die groep is in Junie in hegtenis geneem oor beweerde bedrog en korrupsie wat verband hou met die onreëlmatige aanstelling van Dineo Mokwele in ‘n senior pos. Hulle is voorheen verbied in alle Misdaadintelligensie-geriewe om die ondersoek en getuies te beskerm. Hulle is uit op borgtog van tussen tien- en twintig-duisend-rand. Hul volgende hofverskyning is 13 Februarie.
# Die DA verwelkom die inhegtenisneming en aanklag van die beweerde ‘superspioen’ wat in die binnekring van oudpresident Jacob Zuma se staatskapingprojek gewerk het, Thulani Dlomo. Die adjunk-direkteur van Teenintelligensie in die Staatsveiligheidsagentskap, asook die projekbestuurder van die Direktoraat van Spesiale Operasies, Patrick Mshotholo, is in hegtenis geneem en aangekla van diefstal, bedrog, vervalsing en die verspreiding van sowat 12-miljoen-rand. Ian Cameron van die DA sê dis ‘n deurbraak in die stryd teen korrupsie:
# Die Vryheidsfront Plus sê Afrikaanse skole moet Artikel 235 van die Grondwet aktief toepas om hul kulturele en taalkundige onderwysregte te beskerm. Die party waarsku die Departement van Basiese Onderwys, met steun deur minister Siviwe Gwarube, teiken Afrikaansmediumskole ingevolge die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette om veeltalige beleide af te dwing. Wynand Boshoff van die VF Plus sê daar is slegs 639 Afrikaanse skole oor, met baie wat onder druk is om Engels as onderrigtaal in te stel:
# Motorsport: Die motorsportafdeling van die Japanese voertuigvervaardiger Toyota, Gazoo Racing, is volgende seisoen die Haas Formule Een-span se amptelike borg. Die Amerikaanse span, wat Ferrari-enjins gebruik, sal voortaan bekend staan as TGR Haas F1. Haas en Toyota het in Oktober verlede jaar ‘n tegniese vennootskap aangekondig wat Japan se grootste motorvervaardiger die eerste keer in 25 jaar na Formula Een laat terugkeer het. Die span se Japannese hoof, Ayao Komatsu, sê hul werksverhouding is sedertdien alles waarvoor hulle kon hoop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen de dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 22-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-365-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-225-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….