Nuus 15:00
BULLETIN 5 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Umalusi bevestig die matriekeksamen-uitslae sal op 12 Januarie bekendgemaak word
# ‘n Taxibeampte word in Gauteng doodgeskiet
# En rugby: Rassie bly aan by die Bokke tot 2031
# Die gehalteversekeringsliggaam Umalusi het bevestig die nasien van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamenvraestelle, wat op 18 November begin het, sal op die 18de van hierdie maand eindig. Umalusi se hoof, Mafu Rakometsi, sê punte sal tot die vyfde van volgende maand vasgelê word, en die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe sal die eksamenbestuur hersien. Hy sê die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sal die uitslae op 12 Januarie aankondig:
# Die Johannesburgse polisie het ‘n moordsaak geopen nadat ‘n taxiverenigingbeampte in Sandton doodgeskiet is. Twee mans het die slagoffer en ‘n ander man met outomatiese gewere genader. Die polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê hulle vermoed die moord kan verbind word met ‘n voortdurende taxi-konflik in Alexandra. Hy vra enigiemand met inligting om hul naaste polisiestasie te kontak:
# Die Hooggeregshof in die Vrystaat hoor betoë aan oor die gereedheid vir die ontsnappingsverhoor van Thabo Bester en sy medebeskuldigde. Die saak het in September vasgeval toe Bester die vierde keer van regspan verander het. Sy medebeskuldigde, Nandipha Magudumana, het ook die Konstitusionele Hof genader oor haar uitlewering uit Arusha in Tanzanië. Hulle is op 8 April 2023 in hegtenis geneem nadat hulle uit die land gevlug het. Aanklaers het die Hooggeregshof gevra om aandag te skenk aan die vertragings wat deur Magudumana se appèlaansoek veroorsaak is.
# Rugby: Rassie Erasmus gaan vir ‘n verdere vier jaar as Springbok-afrigter aanbly. SA Rugby se president, Mark Alexander, sê hulle is trots om hul toewyding aan uitnemendheid te herbevestig deur die ooreenkoms te verleng tot na 2031 se Wêreldbekertoernooi in Amerika. Hy sê dit weerspieël nie net Erasmus se merkwaardige rekord nie, maar ook sy blywende uitwerking om die spel se identiteit te vorm. Alexander sê die Bokke het onder Erasmus se leiding geskiedkundige mylpale bereik en deurgaans die standaard gestel vir prestasie op die wêreldverhoog.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-508-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-223-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing sê dis uiters belangrik om ‘n kultuur van geen verdraagsaamheid teenoor korrupsie te bevorder om ‘n regverdige en onpartydige Suid-Afrika tot stand te bring. Die raad het die uitslag van sy navorsingsprojek, Korrupsie en Gedragsverandering: Opsporing van Maatskaplike Norme en Waardes in Suid-Afrika, vrygestel. Dit toon die erge omvang van korrupsie. Steven Gordon van die RGN sê baie mense het gesê hulle woon in gemeenskappe waar staatsamptenare by omkopery, nepotisme en seksuele afpersing betrokke is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….