Nuus 13:00
BULLETIN 5 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Senzo Mchunu beklemtoon die term ‘onmiddellik’ het nie die onmiddellike ontbinding van die taakspan vir politieke moorde beteken nie
# Die DA verwelkom die inhegtenisneming van Jacob Zuma se sogenaamde superspioen
# En rugby: Die Springbok-vroue kom die eerste keer in Suid-Afrika teen die Black Ferns te staan
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het aan die Madlanga-kommissie gesê die opdrag “onmiddellik” het nie beteken die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde moet onmiddelik ontbind word nie. Dit volg nadat getuienisleier Mahlape Sello Mchunu uitgevra het oor sy besluit om die taakspan te ontbind. Die minister sê hy het verdere prosesse en ‘n verslag van die nasionale kommissaris verwag:
# Die DA verwelkom die inhegtenisneming en aanklag van die beweerde ‘superspioen’ wat in die binnekring van oudpresident Jacob Zuma se staatskapingprojek gewerk het, Thulani Dlomo. Die adjunk-direkteur van Teenintelligensie in die Staatsveiligheidsagentskap, asook die projekbestuurder van die Direktoraat van Spesiale Operasies, Patrick Mshotholo, is in hegtenis geneem en aangekla van diefstal, bedrog, vervalsing en die verspreiding van sowat 12-miljoen-rand. Ian Cameron van die DA sê dis ‘n deurbraak in die stryd teen korrupsie:
# Die burgerlike samelewing het die Hooggeregshof in Johannesburg se uitspraak verwelkom wat pasiënte by die stad se klinieke beskerm. Die hof het die staat gelas om veilige en onbelemmerde toegang tot openbare gesondheidsorg te verseker na die saak wat deur onder meer Treatment Action Campaign en Dokters Sonder Grense aanhangig gemaak is. Vigilante-groepe het sedert September klinieke ontwrig, veral in Yeoville en Rosettenville. Owerhede word gelas om ongemagtigde persone te verwyder en voldoende sekerheidsmaatreëls te ontplooi. Die uitspraak bevestig die grondwetlike reg op gesondheidsorg vir almal en onmiddellike staatsoptrede.
# ‘n Belangrike uitkoms van hierdie week se vierde bi-nasionale kommissie tussen Suid-Afrika en Mosambiek is die ondertekening van ʼn samewerkingsooreenkoms vir hoër onderwys en opleiding. Die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, het president Cyril Ramaphosa na die geleentheid in Maputo vergesel. Die departement se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê die ooreenkoms versterk tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding, akademiese vennootskappe, ekonomiese groei en streeksamewerking onder die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se protokol vir onderwys en opleiding:
# Rugby: Die Springbok-vroue sal volgende jaar die eerste keer in Suid-Afrika teen Nieu-Seeland speel as deel van die reeks tussen die twee lande se manspanne. Die vroue speel op 5 September op die FNB-stadion in Soweto teen mekaar as ‘n voorwedstryd vir die Bokke en die All Blacks se derde toets. Die Bok-vroue en die Black Ferns het mekaar nog net twee keer tevore ontmoet. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die toets toon die toenemende status van vrouerugby, plaaslik en internasionaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen de dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-286-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-223-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….