Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Desember 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth is vir 12 weke geskors omdat hy sy vinger in die Walliese flank, Alex Mann, se oog gedruk het. Die voorval het Saterdag plaasgevind tydens Suid-Afrika se oorwinning van 73-0 oor Wallis. ‘n Onafhanklike tugkomitee het bevind Etzebeth se daad was doelbewus en verdien ʼn straf van minstens 18 weke. Dis egter met ses weke verminder weens sy vorige skoon tug-rekord. Die 34-jarige speler sal die Haaie se volgende 12 wedstryde misloop en eers teen 28 Maart weer toegelaat word om te speel.
Die nuweling en veelsydige agterspeler Nabo Sokoyi is intussen ingesluit in die Springbok Sewesspan vir hierdie naweek se wêreldreekstoernooi in Kaapstad. Die 23-jarige vervang Mfundo Ndhlovu in die enigste verandering aan die span wat verlede week vyfde klaargemaak het in Dubai. Die Blitsbokke se afrigter, Philip Snyman, sê Sokoyi het die talent en vermoë om ‘n permanente lid van die span te word. Suid-Afrika speel môre op die eerste dag teen Nieu-Seeland, Fiji en Engeland.
# Krieket: Die Protea-vroue se kaptein, Laura Wolvaardt, sê die span is gereed en vol energie vir hulle kragmeting met Ierland wanneer die eerste van drie T20s vanmiddag in Kaapstad gespeel word. Dis Suid-Afrika se eerste wedstryd sedert hulle verlede maand in die eindstryd van die eendag-Wêreldbekertoernooi teen Indië verloor het. Die reeks is deel van die voorbereiding vir volgende jaar se T20-Wêreldbeker in Engeland en Wallis. Wolvaardt verwag ʼn uitdagende reeks:
Intussen hoop Indië die geluk is uiteindelik aan sy kant in môre se derde en laaste eendagwedstryd teen Suid-Afrika se mans in Visakhapatnam. Dit volg nadat hulle die 20ste agtereenvolgende keer die loot verloor het in ‘n eendagwedstryd in Woensdag se tweede ontmoeting in Raipur. Die instaan-kaptein, KL Rahul, erken dat hy verstom is oor die gebeure, met Rohit Sharma wat tydens 2023 se Wêreldbeker-toernooi laas die loot gewen het. Rahul sê hy het selfs geoefen om die munt reg te skiet, maar tevergeefs. Die reeks is tans gelykop.
# En motorsport: Lando Norris sê hy is huiwerig om McLaren te vra vir ʼn spanbevel vir Oscar Piastri om hom te help om Sondag sy eerste Formula 1-bestuurderskampioenskap te beklink in die seisoen se laaste wedren in Abu Dhabi. Norris is 12 punte voor Max Verstappen van Red Bull en 16 voor Piastri. Die Brit het slegs ʼn podiumplek nodig om wêreldkampioen te word. Norris sê dis die span se besluit om ʼn spanbevel vir Piastri uit te reik:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….