Oggendkoerant-verslag
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig hoewel die VSA-tariewe ‘n negatiewe uitwerking op die uitvoer van motors het, verbeter die tekort op die lopende rekening.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf oor die faksiegevegte wat binne die ANC woed en oor president Donald Trump wat die G20-geveg nou in die modder ingesleep het.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Springbok-slot Eben Etzebeth is vir 12 weke geskors na die voorval tydens die Walliese wedstryd in Cardiff.
Dan skryf die webblad die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu se redes vir die ontbinding van die polisietaakspan het nie die Madlanga-kommissie oortuig nie.
En laastens word berig die tweejarige Janickai Baartman is dood nadat ‘n pilaar by die VRT Primary School in Swellendam op haar geval het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf oudpresident Jacob Zuma het sy verlof tot appèl verloor teen ‘n bevel van die Hooggeregshof wat hom verplig om die 28,9-miljoen-rand terug te betaal vir die regskoste in sy wapentransaksie-saak.
En tweedens word berig daar is ‘n dringende beroep op die ANC in Gauteng om ‘n sinkende skip te red.
# Sowetan:
Berig dit het in die Madlanga-kommissie aan die lig gekom dat die sowat 700-duisend-rand wat Vusimuzi “Cat” Matlala aan die adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi betaal het, ‘n gunsloon was vir die fasilitering van transaksies.
# En The Citizen:
Skryf gesteelde polisiewapens wat in misdadigers se hande beland, dra by tot die misdaadprobleem. Die polisie het sowat drie-duisend-400 wapens verloor.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei soos Netwerk24 met die skorsing van Eben Etzebeth.
Dan word berig die polisie het ‘n geregtelike ondersoek geopen nadat ‘n man gister in die Kaapstad-hawe verdrink het. ‘n Vyfjarige seuntjie, moontlik die man se kind, is tydens die voorval gered.
En laastens skryf die koerant kokaïen ter waarde van 3,6-miljoen-rand is tydens ‘n polisieklopjag in George gevind. ‘n Verdagte is tydens die optrede in hegtenis geneem.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig strenger waterbeperkings gaan in George ingestel word.
En skryf die herstelwerk aan paaie is vir eers gestaak omdat die kontrakte verstryk het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf na die beslissing oor Zuma se regskoste sal die wapensaak teen hom nou voortgesit word.
En tweedens word berig die Proteas maak hulself gereed om die eendagreeks teen Indië te wen.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig eerstens oor vroue agter tralies. Die koerant skryf die vroue het ‘n siklus beleef van mishandeling, stilswye en verwaarlosing wat in hul kinderjare begin, voortduur in gewelddadige verhoudings en uiteindelik uitbars in ‘n oomblik van dodelike geweld.
Dan skryf die koerant die kantoor van die regbank hersien die sekuriteitsmaatreëls vir aanklaers en landdroste wat sensitiewe sake hanteer.
En laastens word berig Namibië het sy eerste suksesvolle outologiese stamseloorplanting uitgevoer.